Moer 'n Boer seisoen 3 is binnekort op kykNET.
Moer ‘n Boer seisoen 3 is binnekort op kykNET.
BloemNews Express

Dit is groot pret, sê Bloemfonteinse boer in Moer ‘n Boer


Daar wag baie aksie en pret vir kykers wanneer Bloemfonteiner Chris Ras en die ander finaliste mekaar pak in seisoen drie van die kykNET-reeks Moer ‘n Boer.

Chris, van die plaas Houmoed buite die stad, is ‘n massiewe ou van 1.98m en is op 42 die oudste deelnemer in die reeks. Hy is die pa van vier seuns en ‘n dogter. “My kinders het my gedare om in te skryf. Ek het aan die uitdunne deelgeneem, en sowaar die top 20 gehaal.”

Chris Ras van Bloemfontein.
Chris Ras van Bloemfontein.

Moer ’n Boer volg 20 gewone boere wat gemengde vegkuns leer en hul eie grense in ’n ses maande lange reis na die kryt toets. Hulle ontdek hoe ver moed, deursettingsvermoë en kameraadskap ’n mens kan dra – uiteindelik kan net een as die Moer ’n Boer-kampioen wegstap.

“Dit was vir my ‘n baie lekker uitdaging. Ek het vriende gemaak met 19 van die 20 ouens wat deelneem. Dit is wonderlike mense. ” vertel Chris.

Hy sê daar is ‘n groot fokus op fiksheid. “Mense gooi te gou handdoek in. Ek wou met my deelname wys jy kan probeer, al is daar uitdagings.”

Vir die regisseur van seisoen drie, Stephan Guldenpfennig, was die reis vanjaar ’n diep openbaring van wat dit werklik beteken om ’n Suid-Afrikaanse boer te wees:

JW Dercksen van Hertzogville.
JW Dercksen van Hertzogville.

“Ek het ingekom en gedink ek gaan ’n program oor mixed martial arts maak, maar baie vinnig besef dis nie waaroor hierdie reeks gaan nie. Dit gaan oor gewone mense wat hul hande opsteek en sê: “Ek gaan kyk waartoe ek in staat is.’”

Daar dae was wat hulle aksie geskiet het en dae wat hulle net geluister het. ’n Boer wat oor sy familie praat, iemand wat twyfel, iemand wat weer opstaan, “Ek dink dis wat hierdie seisoen anders maak. Die hart van die reeks lê by die mense wat bereid is om hulself uit hul gemaksones te haal,” meen hy.

Dit is juis die vriendskapsbande wat gesmee is, wat vir Chris iets besonders is.

“Ons ontmoet maandeliks en het nou die laaste keer paintball gespeel. Die ouens het my goed bygekom,” lag hy.

Franco Venter van Frankfort.
Franco Venter van Frankfort.

Die ander Vrystaters wat in die reeks te sien is, is Franco Venter (26) van Frankfort, Johan Meintjies (34) van Wesselsbron en JW Dercksen (29) van Hertzogville. Dirkie Hanekom (28) kom van Maryrdale in die Noord-Kaap.

Daar is ook ‘n hele paar boere van Noordwes wat hand opgesteek het vir die reeks. Hulle is Zandro Coetzee (21) van Ventersdorp, Wiehan Dippenaar (29) van Hartebeespoort, Ryno de Jager (33) van Swartruggens, JG Niemann (23) van Kameel, Hannes Bornman (37) van Sannieshof, Henko Marais (32) van Lichtenburg en Christiaan de Klerk (33) van Bloemhof.

Die ander deelnemers is Claude Fourie (29) van Meyerton, Gustav Kotzé (30) van Piet Retief, Hannes Malan (35) van Hoedspruit, Jannes Snyman (32) van Welbekend in Gauteng, Jayden Saraiva (22) van Heidelberg, Rib Ribberts (36) van Hekpoort, Ruan Burger (32) van Letsitele in Limpopo en William “Boerbok” van der Walt (21) van Ermelo.

Die reeks begin Saterdag 18 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die publiek kan ook deel wees van die passiebelaaide fees tydens die Versus Fight Night 20 op Saterdag 1 Augustus in die Heartfelt Arena in Pretoria, waar die boere se eerste nuuskonferensie sal plaasvind. Dit is die begin van die groot opbou na die reuse nasionale hoogtepunt: die finale gevegte op Saterdag 19 September.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article