Twee tieners het ‘n hengelaar van Strand se lewe gered toe ‘n sterk stroom hom onverwags meegesleur het. Nou deel Dawood Constance (38) sy storie en veiligheidswenke om medehengelaars en swemmers bewus te maak sodat soortgelyke voorvalle voorkom kan word.
Constance is verlede Woensdag (9 September) tydens ‘n hengeluitstappie deur twee tienerseuns uit die water oorkant Blake’s Terrace gered.
Hy sê hy het net ná 18:00 met sononder links van die Pavilion, tussen Binneklip en Eiland – soos hengelaars na die omgewing verwys – gehengel.
Die water was ‘n bietjie vlak en hy het besluit om dieper in te beweeg.
Hy het “tot by die sloepie” gekom toe hy deur die stroom meegesleur is.
“Ek het tevergeefs probeer uitswem,” het hy vertel.
Twee 18-jarige seuns, Marcé Els en Stephan Niemann, wat ook in die omgewing visgevang het, het tot sy redding gekom. Volgens Els het hulle die man instinktief te hulp gesnel. “Ons het besef dit is sonder twyfel die regte ding om te doen.”

In reddinsaksie
Hulle het probeer om Constance se aasgordel en vissak los te maak, maar kon dit nie loskry nie. “Ons kon sien dat Dawood paniekbevange was en dat water sy baadjie ingestroom het,” het Els gesê.
Els het sy visstok vir Constance gegee sodat hy hom teen die stroom kon skraag en bo water kon bly. Niemann het hom in die rigting van die rif gedruk terwyl Els die uitgeputte hengelaar op sy skouer laat leun en hom rustig gehou het. Saam het hulle hom na ‘n hoër klip gehelp.
“Dinge kon so vinnig verkeerd geloop het. Ons is net dankbaar dat die Here ons beskerm het en dat ons hom kon red.”
Volgens Constance was hy verras dat die stroom so sterk was. Hy is ‘n jare lange hengelaar en goeie swemmer, maar is bewus daarvan dat ‘n mens nie die see kan onderskat nie. “Ek het vroeër gesien hoe die stroom my lyn na links getrek het, maar nie daarop ag geslaan nie. Toe het die stroom presies wat hy met my lyn gedoen het, met my voete gedoen.”
Constance onthou dat hy vir ‘n tydjie op die klip gestaan het totdat hy weer normaal kon asem haal. “Ek was lighoofdig, my spiere was moeg en terwyl die ligte branders teen my geslaan het, was ek nie by my volle bewussyn nie.”
Hoewel hy van sy toerusting, insluitend sy staanders, in die water kwyt is, is hy dankbaar dat hy die voorval oorleef het.
“Ek is net dankbaar vir die seuns wat met sulke dapperheid en moed die see aangedurf en hul lewe op die spel geplaas het om ‘n vreemdeling te help red.”
‘Dinge kon soveel anders gewees het’
Sy verloofde, Cheney Henneberry (34), het haar skok en dankbaarheid uitgespreek. “Dinge kon soveel anders gewees het. Soms spook die hele ding nog by my en dwing my onverwags tot trane.”
Sy is net bly dat hy weer met haar en hul dogters, Zahra Henneberry (15) en Ashurah Constance (5), herenig is.

Constance deel die volgende veiligheidswenke, wat deur sy beste vriende en ervare medehengelaars, Ryno Prinsloo en Jaco Potgieter, met hom gedeel is: “Moet nooit alleen gaan hengel nie. Sorg dat jy die regte klere het. Bestudeer die visvangterrein en seetoestande. Nuwelinge moet saam met ervare hengelaars gaan.”
Prinsloo het hom ná die voorval grappenderwys ‘n “oorveeg” gegee oor die veiligheidswenke wat hy verontagsaam het – en toe eers die “preek” begin.



