Die Strand-rugbyklub het ‘n gemeenskapsrugbydag saam met Strand United by die Gustrow-sportterrein aangebied, waar wedywering plek gemaak het vir ‘n viering om Liga se 90-jaar-erfenis te gedenk.
En in ‘n dorp waar rugby in die are sit, het die dag veel meer as net sport aangebied. Dit was ‘n viering van gemeenskapseenheid deur ‘n sport wat die Strand-gemeenskap al dekades lank verbind.
Die aksie het vroeg begin met mini-rugby vir die o.7-spelers. Strand- Moslem Primêre Skool het teen die Collegians- rugbyklub van Mitchell’s Plain gespeel, waar die besoekers ‘n 5-0-oorwinning oor die Strand-leerders behaal het.

Liga se o.13-span het daarna die pas aangegee met ‘n indrukwekkende 30-0-oorwinning oor ‘n uitnodigingspan. Hierdie oorheersende prestasie het die verwagting verhoog vir die uitdagende vriendskaplike wedstryde daarna.

Die spanning het toegeneem toe Liga se tweede span sy Strand-eweknie met 20-17 geklop het. In die hoofwedstryd het United egter die laaste woord gehad.

United het met ‘n 12-10-oorwinning oor Liga met die derbydag-kroon weggestap terwyl ondersteuners van albei kante uitbundig gejuig het.
“Die dag het die uitstaande rugby-vermoëns van die Helderbergkom beklemtoon. Dit was ‘n pragtige skouspel waar die spelers hul klubs met eer gedien het,” het Rodger Daniels, voorsitter van die Strand-rugbyklub, gesê.

Die gees van eenheid is beklemtoon toe individuele pryse tussen die klubs gedeel is. Dale Wilson van Strand United het erkenning as beste voorspeler ontvang, terwyl Liga se Chandler Lewis met prys as die beste agterspeler weggestap het.





You must be logged in to post a comment.