Uit die diepste duisternis van verlies skep Nicole Maart se familie ‘n vonk van hoop.
Terwyl hulle worstel met die pynlike werklikheid dat die 36-jarige na bewering die slagoffer van geslagsgeweld geword het, weier hulle dat die vermeende misdaad haar verhaal sal definieer. In plaas daarvan kies hulle om die jong vrou te vier wat lewens met haar hartlike vriendelikheid en onvoorwaardelike behulpsaamheid aangeraak het.
Vir Lizette Forbes (55) was verlede Dinsdagoggend (17 Maart) aanvanklik net nog ‘n gewone dag – totdat ‘n enkele klop aan die deur van haar huis in Strand alles verander het. Sy was net voor 09:00 besig om haar agterkleinkind droog te maak en het beplan om na die plaaslike groothandelaar te gaan. “My 77-jarige ma het die deur oopgemaak en ‘n vrou met ‘n klein seuntjie vriendelik binnegenooi,” vertel Lizette.
Die besoeker was die ma van iemand wat Nicole geken het. Wat as ‘n gewone beleefdheidsgesprek begin het, het egter gou ‘n ondenkbare wending geneem.
“Sy het verduidelik dat daar ‘n situasie was en dat mense nie vir Nicole kon bykry nie. Ek het haar dadelik gevra: ‘Waar is Nicole?’,” vertel Lizette.
Toe kom die woorde wat elke ouer vrees om te hoor – “Nicole is dood”.
“Die skok was onbeskryflik,” sê Lizette eenvoudig. “Ek en my ma het albei in trane uitgebars.”
Polisieondersoek ná dood duur voort
Volgens kol. Jacqui Johnson, bevelvoerder van die Strand-polisie, is ‘n geregtelike doodsondersoek ingestel nadat lede deur Helderberg-hospitaal in kennis gestel is van Maart se sterfte.
Johnson het gesê Nicole het ‘n oop wond aan die linkerkant van die kop gehad. “Die saak word steeds ondersoek en niemand is nog aangekeer nie.”
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte by 021 785 9130 kontak.
Lizette beskryf haar dogter as ‘n vreedsame, vriendelike mens wat altyd ‘n helpende hand na ander uitgereik het.
“Sy sal veral onthou word vir haar hartverwarmende glimlag en dat sy altyd trots op haar voorkoms was,” sê sy. “Ons koester herinneringe van hoe Nicole soms so opgewonde sou raak dat sy so vinnig gepraat het dat haar voorste tande uitval.”
Nicole se ouma en dogter het haar Maandagaand (16 Maart) nog gesien kort voordat sy van die huis af weg is. “Ons is diep hartseer oor hierdie verlies,” sê Lizette.
“Ons wil haar onthou vir die liefde wat sy gebring het, nie die beweerde manier waarop sy van ons weggeneem is nie.”
‘n Begrafnisdiens word vir Saterdag (28 Maart) gereël.




