Leerders van Curro Somerset-Wes en die Hoërskool Parel Vallei het skitterende sukses in die nasionale Afrikaans-spraakkompetisie, “Nou Praat Jy!”, wat op Donderdag 30 Julie by Curro Durbanville Hoërskool gehou is, behaal.
Die tweede weergawe van die kompetisie het skole van so ver as Graaff-Reinet, Lutzville en Porterville gelok om die tema “Kyk Noord!” te dien – ‘n oproep om vorentoe eerder as agtertoe te kyk. Die duo-formaat het gesamentlike spraakaflewerings aangemoedig en streekdialekte ‘n kans gegee om te skitter.
Curro Somerset-Wes het die Junior eerste addisionele taal-afdeling oorheers toe Mia van Tubbergh en Ayla Daniël-Ramouthar die eerste plek behaal het. Mia is ook as die Beste junior eerste addisionele taal-spreker gekroon – ‘n individuele toekenning wat haar uitstaande aanbiedingsvermoë beklemtoon het.
In die Senior eerste addisionele taal-afdeling was Reiley Capes en Darren Tobias van die Hoërskool Parel Vallei die naaswenners, met Nahum Christians en Xara-Leigh Johnson van Curro Somerset-Wes in die derde plek. Die Somerset-Wes-skole het dus twee van die drie prysplekke in hierdie afdelings gewen.
Die Hoërskool Parel Vallei het ook Junior huistaal-eer verwerf toe Berné Peters en Alexander Mac Gillivray die derdeplekmedalje verower het.
Die kompetisie is as deel van Curro Durbanville se Kultura-fees aangebied, wat optredes deur Albert Pretorius, Schalk Joubert, Margit Meyer-Rödenbeck, Deon van Zyl, Alfred Adriaan, Francois van Coke en Karen Zoid met Anton Eloff insluit.
. Kaartjies te koop by Quicket of besoek die Kultura-fees-bladsy vir nog inligting.



