Jeugmaand skenkings van skoolskoene.
Agter (van links), saam met ‘n aantal leerders van Oklahomastraat Primêr: Diané la Grange (Afrikaanse vakraadgewer van die WKOD vir die senior en VOO-fase), Elizma Arendse (Kaapse Forum), Ria Olivier (Afrikaanse Taalraad), Aldo Carelse (Kaapse Forum), Dexter Fisher (adjunkhoof van Oklahomastraat Primêr) en Farrell April (Afrikaanse vakraadgewer vir die WKOD vir die intermediêre fase).

Kaapse Forum bring warmte én hoop vir leerders in Jeugmaand

Jeugmaand skenkings van skoolskoene.
Agter (van links), saam met ‘n aantal leerders van Oklahomastraat Primêr: Diané la Grange (Afrikaanse vakraadgewer van die WKOD vir die senior en VOO-fase), Elizma Arendse (Kaapse Forum), Ria Olivier (Afrikaanse Taalraad), Aldo Carelse (Kaapse Forum), Dexter Fisher (adjunkhoof van Oklahomastraat Primêr) en Farrell April (Afrikaanse vakraadgewer vir die WKOD vir die intermediêre fase).

Kaapse Forum het gedurende Jeugmaand (Junie) in same­werking met die Afrikaanse Taalraad (ATR), skoolskoene aan behoeftige leerders by die Oklahomastraat Primêre Skool en die Hoërskool Zandvliet in Macassar geskenk.

Die ATR en ‘n plaaslike verteenwoordiger van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het die oorhandiging bygewoon. Die leerders was oorstelp van vreugde en dankbaar by die ontvangs van die skoolskoene.

Die skoolhoofde het namens die leerders en hul ouers hul opregte waardering vir die skenking uitgespreek. Hulle het beklemtoon dat skoolskoene ‘n noodsaaklike behoefte is, veral gedurende die koue wintermaande, en dat die ondersteu­ning ‘n tasbare verskil in die leerders se daaglikse lewe maak.

Jeugmaand skenkings van skoolskoene.
Die herwonne skoolskoene wat danksy die inisiatief aan behoeftige skoolkinders geskenk is.

“Die skoolskoene word vervaardig uit herwonne PVC- mediese materiaal, soos drupsakkies en suurstofmaskers, wat skoongemaak, verwerk en in duur­same skoolskoene vir behoeftige leerders omgeskep word. ‘n Mens kry ook die geleentheid om skoene te koop en self te versprei,” sê Elizma Arendse, Kaapse Forum se koördineerder vir administrasie en gemeenskapsprojekte.

“Ons glo elke kind behoort die geleentheid te hê om skool met waardigheid en selfvertroue by te woon. Hierdie inisiatief is deel van die organisasie se voortdurende verbintenis tot gemeenskapsontwikkeling en die ondersteuning van jongmense,” sê Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van gemeenskapsaktivering.

‘n Besonderse woord van dank gaan aan die adviseurs vir die Afrikaanse kurrikulum van die WKOD se Metropool-Oos-onderwysdistrik vir hul waardevolle ondersteuning met die reëlings van die oorhandiging en hul teenwoordigheid by die geleent­heid.

“Deur praktiese hulp en samewerking tussen gemeenskapsorganisasies en die staat, bring Kaapse Forum nie net warmte teen die winterkoue nie, maar ook hoop en ondersteuning aan die jeug van ons gemeenskappe. Hierdie bydrae het ten doel om enige afname in leerderbywoning tydens die nat wintermaande te voorkom,” sluit Arendse af.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article