Edgar Jackson (36) is verlede Donderdagaand (2 Julie) in Casablanca, Strand, doodgeskiet, maar die polisie sê hierdie skietery hou nie met bendes verband nie.
Volgens kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is Jackson omstreeks 23:45 in Nazlisingel, Casablanca noodlottig geskiet.
Dit word beweer dat Jackson en ‘n vriend buite by die huis gesit het toe onbekende mans by die heining opgedaag en met hulle gepraat het.
“Een van die mans het ‘n vuurwapen uitgehaal en dit afgevuur,” sê Van Wyk.
Jackson het glo omgedraai en na die agterkant van die huis gehardloop, waar hy ineengestort en gesterf het.
Hy het twee skietwonde aan sy lyf opgedoen en is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.
Kol. Jacqui Johnson, die Strand-polisie se bevelvoerder, het bevestig dat, hoewel die oorledene aan die polisie bekend was, hy geen bekende bende-affiliasies gehad het nie.
Inwoners het egter beweer dat die voorval weer met bendegeweld verband gehou het.
Die polisie het dít egter ontken met die byvoeging dat die saak tans ondersoek word. Die motief vir die aanval is nog nie vasgestel nie en niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Dit volg nadat drie mense in Maart ook in Casablanca met messe tydens ‘n skietvoorval gesteek is (“Drie met messe gesteek“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 18 Maart).
Daardie voorval het omstreeks 23:55 in O’Connellrylaan plaasgevind, waar skote geklap het en drie mense gesteek is.
Een slagoffer is noodlottig gewond terwyl twee ander na ‘n nabygeleë hospitaal vir mediese behandeling vervoer is.
Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor die mees onlangse voorval, insluitend onwettige vuurwapens in die gebied, om die Strand-polisiekantoor by 021 854 9100 of 082 850 9628 te bel.





