Rita Maree van Strand gaan haar boodskap oor selfliefde en uniekheid op ‘n nasionale verhoog deel nadat sy een as een van die top-12-finaliste vir Mrs Curve South Africa 2026 gekies is.
Dié 52-jarige van Southfork gaan op Donderdag 12 November aan die kompetisie se eindronde by die Emperors Palace in Johannesburg deelneem.
Mrs Curve South Africa is deel van die internasionale Mrs Curve Globe-skoonheidskompetisie, wat die skoonheid en selfvertroue van vroue met voller figure deur die bevordering van liggaamspositiwiteit vier. Die kompetisie is oop vir getroude, geskeide of Suid-Afrikaanse vroue wat van bed en tafel geskei is.
Vir Maree, wat in Strand gebore is en daar grootgeword het, is dit ‘n droom wat waar geword het. Sy het altyd gewens om as model op te tree, maar het eers drie jaar gelede begin.
Nadat sy Mrs Curve op sosiale media ontdek en oor hul waardes gelees het, het sy besluit sy sal graag wil inskryf.
Die reis het haar omgevorm.
“Vir my beteken dit baie, want ek het baie meer selfvertroue en ek voel goed oor myself,” sê sy oor haar plek in die top-12.
Sy wil dit nou met ander deel. “Ek wil ‘n inspirasie wees vir die Helderberg se vroue,” sê Maree.
Haar visie strek verder. “Ek hoop om vroue in die Helderberg bymekaar te bring en hulle aan te moedig om meer tyd aan hulself te bestee en nie net aan die huis, hul mans en hul kinders nie.”
Haar boodskap is eenvoudig: “Almal is uniek en spesiaal – op hul eie manier.”
Om die Helderberg te verteenwoordig, sal sy ‘n rok deur die plaaslike “Sisters in Partners” vir die eindronde dra.
Die uitslag word deur stemme bepaal. Lesers kan vir Maree stem deur die woord “Rita” per SMS na 35180 te stuur. Dit kos R3 per SMS.





