Munisipaliteite vaar steeds vrotsig met vullisterreine, mislukkings wydverspreid

Vullisterreinoudits
Munisipaliteite in Suid-Afrika is steeds grootliks onsuksesvol met die bestuur van vullisterreine. FOTO: Unsplash / Collab Media

Munisipaliteite vaar steeds vrotsig met vullisterreine, mislukkings wydverspreid

Vullisterreinoudits
Munisipaliteite in Suid-Afrika is steeds grootliks onsuksesvol met die bestuur van vullisterreine. FOTO: Unsplash / Collab Media

Die Wes-Kaap het die beste in vanjaar se nasionale vullisterreinoudits gevaar, met Gauteng wat ‘n beduidende terugslag getoon het, terwyl die Noord-Kaap en Vrystaat die swakste presteer het.

Volgens AfriForum se jaarlikse Munisipale Vullisterreinouditverslag vir 2026 wat verlede week aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria oorhandig is, het slegs 30 van die 132 vullisterreine en oorlaaistasies wat geoudit is aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen en die oudit geslaag.

By die oorhandiging van die verslag
By die oorhandiging van die verslag is van links Lambert de Klerk (Omgewingsakebestuurder by AfriForum), Marais de Vaal (Omgewingsakeraadgewer by AfriForum) en Malcolm Mogotsi (direkteur vir munisipale vullisdiensondersteuning by die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing). FOTO: Verskaf

Hierdie oorhandiging van die verslag volg op die oudit wat AfriForum gedurende die eerste kwartaal van 2026 op die 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies gedoen het.

Die 30 terreine, oftewel 23%, wat die oudit geslaag het is ’n geringe verbetering teenoor die slaagsyfer van 22% wat in 2025 aangeteken is en die hoogste nasionale slaagsyfer sedert 2022. Die nasionale gemiddelde nakomingspunt het ook van 42% in 2025 tot 47% in 2026 verbeter.    

Hierdie verbetering dui egter nie op ’n wesenlike verbetering in die toestand van munisipale vullisterreinbestuur nie, aldus die verslag, wat aandui dat tekortkominge in operasionele bestuur, infrastruktuur of nakoming van basiese vereistes oor die land heen voorkom.

Die basiese vereistes dek onder meer operasionele bestuur, toegangsbeheer, rekordhouding, stormwater- en loogwaterbeheer, afvalhantering, asook infrastruktuur en toerusting.

Vullisterreine wat geslaag het.

Ernstige leemtes is uitgewys in basiese inligting wat nodig is om vullisterreinkapasiteit te bestuur. Dit is nodig om vir toekomstige afvalstortingsbehoeftes te beplan voordat bestaande vullisterreinkapasiteit uitgeput raak. Boonop word die bepaling van kapasiteit toenemend belangrik namate Suid-Afrika meer afval genereer, terwyl minder daarvan van vullisterreine weggelei word.

Volgens die DFFE se Konsep- Nasionale Afvalbestuurstrategie vir 2026 genereer Suid-Afrika jaarliks ongeveer 122 miljoen ton afval, waarvan slegs sowat 10% van vullisterreine weggelei word.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, sê die land kan nie bekostig om tevrede te wees met ’n slaagsyfer van slegs 23% bloot omdat dit ’n geringe verbetering verteenwoordig nie. “Die resultate toon dat verantwoordelike vullisterreinbestuur haalbaar is; basiese bestuur, instandhouding en beplanning skiet egter steeds tekort by te veel munisipale terreine.”

AfriForum moedig gemeenskappe aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.

Wes-Kaap

Veertien van die 26 terreine in die provinsie het die oudit geslaag, terwyl die gemiddelde nakomingspunt op 66% gebly het. Dit was die enigste provinsie waar meer as die helfte van die geouditeerde terreine die oudit geslaag het. Die Wes-Kaap het die hoogste gemiddelde nakomingspunt van alle provinsies behaal en sy posisie as die beste presterende provinsie in die land behou. Hierdie jaar-tot-jaar-resultate toon ’n konsekwent hoë vlak van nakoming.

Die beste presterende terreine in 2026 was Gansbaai, Gordonsbaai-oorlaaistasie en Hermanus,
wat almal 100% behaal het. Verskeie ander terreine, waaronder Paarl-oorlaaistasie, Vredenburg,
Swellendam en Montagu – Bessieskop, het ook sterk prestasie getoon.

Die swakste prestasie is aangeteken by Knysna – Old Place (0%), Ashton (10%) en Knysna –
Sedgefield-oorlaaistasie (18%).

Oos-Kaap

Die Oos-Kaap het in 2026 ’n gemiddelde nakomingspunt van 55% aangeteken, teenoor 61% in 2025. Hoewel die provinsie steeds een van die beter presterende provinsies is, dui die afname op ’n verswakking in die algemene toestand van vullisterreinbestuur.

Slegs een van die nege terreine wat geoudit is, het geslaag. Die jaar-tot-jaar-resultate toon ’n wisselvallige patroon.

Die beste presterende terrein was Oos-Londen – Roundhill met ’n nakomingspunt van 96%.
Dit was ook die enigste terrein in die provinsie wat die oudit geslaag het. Ander noemenswaardige
resultate sluit Cradock (Nxuba) (74%) en Humansdorp (68%) in, wat naby die 80%-drempel
presteer het.

Swakste prestasies is aangeteken by Uitenhage (Kariega) – Hillwacht-oorlaaistasie (30%), gevolg
deur Uitenhage (Kariega) – Koedoeskloof (36%), Port Elizabeth (Gqeberha) – Arlington en Hankey (44% elk).

LEES OOK: OPINION | We dump upstream – then drink the consequences downstream

KwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal het in 2026 ’n gemiddelde nakomingspunt van 56% aangeteken, teenoor 46% in 2025. Dit is die hoogste gemiddelde nakomingspunt wat die provinsie gedurende die afgelope vyf jaar behaal het en dui op ’n betekenisvolle verbetering in vergelyking met vorige jare.

Die beste presterende terreine in 2026 was Richardsbaai – Empangeni (92%), Amanzimtoti se Seadoone-oorlaaistasie (88%) en Dundee – Glencoe (82%). Hierdie drie terreine was ook die
enigstes wat die oudit geslaag het.

Daarteenoor het Paulpietersburg (14%), Vryheid (24%) en Newcastle (34%) van die swakste resultate in die provinsie aangeteken.

’n Opvallende waarneming is dat die provinsie se verbetering nie tot enkele terreine beperk was nie.
Verskeie terreine het hoër nakomingspunte as in 2025 aangeteken, waaronder Dundee – Glencoe,
Utrecht, Margate, Hluhluwe en Richardsbaai – Empangeni.

Limpopo

Limpopo het in 2026 ’n gemiddelde nakomingspunt van 51% aangeteken, teenoor 41% in 2025. Dit is
die hoogste gemiddelde nakomingspunt wat die provinsie oor die afgelope vyf jaar behaal het en
dui op ’n merkbare verbetering in die algemene toestand van vullisterreinbestuur.

Tog het slegs een van die 12 terreine wat geoudit is, die oudit geslaag. Dit verteenwoordig ’n slaagsyfer van 8%.

Messina (Musina), met ’n nakomingspunt van 82%, was die enigste terrein wat die 80%-drempel gehaal het en die provinsie se beste presteerder. Marble Hall beklee die tweede plek met 72%. Tzaneen, wat in vorige jare een van Limpopo se sterker presteerders was, het met ’n nakomingspunt van 70% vir die eerste keer in vyf jaar nie die oudit geslaag nie en beklee saam met Ellisras (Lephalale) en Pietersburg (Polokwane) die derde plek.

Die provinsie se swakste presteerders was Nylstroom (Modimolle) (2%) en Naboomspruit
(Mookgophong) (4%).

LEES OOK: Vredenburg landfill fire continues for fourth day as municipality issues smoke safety advisory

Mpumalanga

Mpumalanga het in 2026 ’n gemiddelde nakomingspunt van 42% aangeteken, teenoor 39% in 2025. Dit is die hoogste gemiddelde nakomingspunt wat die provinsie gedurende die afgelope vyf jaar behaal het en dui op ’n geleidelike verbetering in die algemene toestand van vullisterreinbestuur.

Twee van die 19 terreine wat in 2026 geoudit is, het die oudit geslaag. Dit verteenwoordig ’n slaagsyfer van 11%, vergeleke met 9% in 2025.

Die beste presterende terreine was die Hendrina-oorlaaistasie en Witrivier-oorlaaistasie
met nakomingspunte van 86% elk, gevolg deur Middelburg – Dennesig-oorlaaistasie (76%). Hierdie
beste presterende terreine in die provinsie is almal oorlaaistasies, terwyl tradisionele munisipale
vullisterreine steeds swak vaar.

Die swakste prestasie is aangeteken by Morgenzon (0%), Machadodorp (eNtokozweni) (2%) en Volksrust (8%).

Gauteng

Gauteng het ’n beduidende terugslag beleef met die gemiddelde nakomingspunt wat van 84% in 2025 tot 64% in 2026 gedaal het, terwyl die slaagsyfer van 56% tot 23% afgeneem het.

Die beste presterende terreine in Gauteng was die Springs Tonkmeter Resource Facility (100%),
Westonaria-Libanon (92%) en Roodepoort – Marie Louise (82%).

Daarteenoor het verskeie terreine swak gevaar, waaronder Pretoria – Hatherley (38%), Bronkhorstspruit (40%), en Alberton-oorlaaistasie (40% elk).

’n Opvallende tendens in Gauteng is die groot getal terreine wat nie geoudit kon word nie. Dít is
omdat toegang geweier is, terreine gesluit was, tydelik buite bedryf was of te gevaarlik was om te besoek. Wat veral problematies is betreffende terreine wat gesluit is, is dat daar geen duidelike alternatiewe vir afvalstorting deur die betrokke munisipaliteite in plek gestel is nie.

Noordwes

Noordwes het in 2026 ’n gemiddelde nakomingspunt van 40% aangeteken, teenoor 36% in 2025. Dit is die hoogste gemiddelde nakomingspunt wat die provinsie gedurende die afgelope vyf jaar behaal het en dui op ’n geleidelike verbetering in die algemene toestand van vullisterreinbestuur. Vyf van die 19 terreine wat in 2026 geoudit is, het die oudit geslaag.

Die beste presterende terreine in 2026 was Mooinooi (98%), Rustenburg – Waterval (96%), Brits – Hartbeesfontein en Potchefstroom – Felophepa (92% elk), wat almal die oudit geslaag het. Vryburg
se verbetering vanaf 74% in 2025 tot 82% in 2026 is besonder noemenswaardig, aangesien dit die terrein vir die eerste keer in vyf jaar oor die 80%-drempel geneem het.

Die swakste prestasie is aangeteken by Swartruggens (0%), Lichtenburg (2%), Koster en Ventersdorp (6% elk).

Vrystaat

Die Vrystaat het ’n gemiddelde nakomingspunt van 19% aangeteken, teenoor 18% in 2025. Dus bly die provinsie een van die swakste presteerders in die land.

Slegs een van die 17 terreine wat geoudit is, het die oudit geslaag. Die jaar-tot-jaar-resultate toon ’n wisselvallige, maar oorwegend swak prestasie.

Bethlehem was in 2026 die enigste terrein wat die oudit geslaag het, met ’n nakomingspunt van
82%. Die Vaalpark-oorlaaistasie in Sasolburg was die enigste terrein in die Vrystaat wat die oudit in
2025 geslaag het en het van 86% in 2025 tot slegs 70% in 2026 versleg.

’n Noemenswaardige gaping bestaan tussen hierdie terreine en die res van die provinsie, aangesien die volgende beste presteerder, Bloemfontein-Noord, slegs 32% behaal het.

Die swakste prestasie is aangeteken by Deneysville en Heilbron, wat albei 0% behaal het. Ander swak
presteerders sluit Zastron en Winburg (2% elk) en Bothaville (4%) in.

Noord-Kaap

Die Noord-Kaap het in 2026 ’n gemiddelde nakomingspunt van 14% aangeteken, teenoor 13% in 2025. Dus bly die provinsie een van die swakste presteerders in die land. Geen van die ses terreine wat in 2026 geoudit is, het die oudit geslaag nie, terwyl twee terreine die oudit in 2025 geslaag het.

Die beste presterende terreine in 2026 was Upington (32%), Delportshoop (22%) en Prieska
(18%). Geen terrein het egter naby die ouditdrempel van 80% gekom nie.

Die swakste prestasie is aangeteken by Springbok en Kakamas, wat onderskeidelik 0% en 2% behaal het, gevolg deur Keimoes (8%).

Geen terrein het die oudit geslaag nie en die gemiddelde nakomingspunt bly laag, wat op volgehoue tekortkominge in vullisterreinbestuur in die provinsie dui.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article