‘n Jare lange droom het Woensdag 24 Junie ‘n werklikheid geword toe die ACVV Huis Jan Swart in Strand die amptelike opening van sy nuwe sitkamer en veranda gevier het – ‘n mylpaal waar die burgemeester van, Geordin Hill-Lewis, teenwoordig was.
Suksesvolle ‘swangerskap’
Die beheerraadslid Hennie Coetzee het die verwelkoming by die aangeleentheid behartig en dié teenwoordig meegedeel dat die nuwe toevoeging ‘n vyfjaar-droom was wat eindelik gesien en beleef word.
“Ons droom al vyf jaar lank hiervan en dit was ‘n nege maande lange swangerskap. As julle net na hierdie vloere kyk, weet julle hoeveel bakleiery hieroor was? Dit was bitterlik moeilik, maar vanaand is ons hier.
“Ons wil die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, besonders verwelkom. Dit is ‘n besige tyd met ‘n verkiesing wat voorlê, en ons waardeer dit dat u hierdie tydjie vir ons ingeruim het. Vir 62 jaar het hier niks gebeur nie. Daar was herinneringe gebou vir mense wat hierdeur is, en skielik wil ons nuwe herinneringe bou met hierdie nuwe toevoeging.”


Foto’s: Jamey Gordon
Dekades se nalatenskap
Belinda Mostert, die voorsitter van die ACVV Nasionale Raad, het op haar beurt gesê die samekoms vier nie bloot ‘n gebou of vertrek nie, maar ” ‘n werklike nalatenskap wat reeds sedert 1957 begin het, toe Jan Swart twee erwe vir die oprigting van tehuise geskenk het en Huis Jan Swart in 1963 as die 17de tehuis onder die vlerke van die ACVV amptelik geopen is”.
“Vandag, meer as ses dekades later, staan hierdie tehuis steeds as ‘n getuienis van die krag van gemeenskapsbetrokkenheid, deernis en diensbaarheid. Die ACVV het tans 65 soortgelyke tehuise vir ouer persone.
“Julle bied nie net ‘n blyplek nie, julle skep ‘n tuiste. My man se ouma het hier gewoon, en ek het haar eerste agterkleinkind vir haar in Huis Jan Swart kom wys. ‘n Plek waar mense veilig voel, waar hulle behoort, waar hulle gesien en waardeer word.
“Hierdie nuwe ruimte spreek van warmte, gasvryheid en die geleentheid vir lekker kuier en saamwees. Dit skep nie net waarde vir die inwoners nie, maar ook vir hulle familie en geliefdes wat hier herinneringe kan bou.”

Persoonlike band
Na ‘n uitnodiging van die beheerraadslid en voorsitter van Strand-buurtwag, Carl Gersbach, het Hill-Lewis ook die geleentheid aangegryp om iets te sê: “Ek is self ‘n produk van die ACVV. Ek was in die ACVV-kleuterskool in Bothasig, en dis hoekom ek nog ‘n bietjie Afrikaans kan praat. En noudat my 40ste verjaardag nader kom, begin ‘n mens nadink oor die toekoms – ek het gehoop ek kan vanaand my naam op die lys kry”.

“Huis Jan Swart is ‘n baie belangrike deel van die Strand-gemeenskap. Dit is so belangrik dat ons senior burgers ‘n aangename, menswaardige en gemaklike plek het om hulle aftrede te geniet – ‘n warm plek wat soos ‘n werklike tuiste voel, nie ‘n koue en kliniese ruimte nie. Toe ek die foto’s sien en vanaand hier aangekom het, het julle presies dit bereik. Baie geluk aan almal wat hierdie projek gelei het.”
‘n Droom van oop deure
Die bestuurder Hannelie Koekemoer het almal vir hulle teenwoordigheid en ondersteuning bedank. “Die beheerraad het al vyf jaar hierdie visioen gekoester – ‘n ruimte waar inwoners en hulle families saam kan kuier. ‘n Kamertjie in ‘n ouetehuis is omtrent drie by drie; om jou familie daar te onthaal, is nie altyd moontlik nie. Hierdie ruimte is nou hier, en die koffiewinkel maak oormôre [Vrydag] oop.
“Dit was nog altyd ‘n droom van my dat ‘n ouetehuis nooit ‘n plek moet wees waar ‘n kind bang is om te kom kuier nie. Ek wil hê families en klein kindertjies moet die vrymoedigheid hê om hier in te loop.
“Aan die bestuurspan, die inwoners, en almal wat bygedra het – baie dankie. Ek dink dit lyk selfs beter as wat ons beplan het.”


Die ‘baba’ kry ‘n naam
Die aand het ‘n besondere hoogtepunt bereik toe Coetzee die beheerraadvoorsitter Theo Rix in die kollig geplaas het. “Hierdie vyfjaar-droom was joune, Theo – oral waar jy hoor, is Theo Rix daar, by al die ou mense en gemeenskappe.”
Die beheerraad het besluit die nuwe ruimte moet sy naam dra, en ‘n bordjie is bokant die koffiewinkel onthul. Rix was duidelik verras en het dit nie verwag nie.
“Sonder Hannelie se leiding kon ons dit nie doen nie – om ‘n projek soos hierdie in ‘n ouetehuis te doen, is nie maklik nie as jy 70 inwoners op jou nek het. Maar sy het ons taak soveel makliker gemaak. Nou kan julle kom kuier – hier’s ‘n kuierplek.”











You must be logged in to post a comment.