Twee mans ry aan die pen nadat hulle in die Somerset-Wes-streekhof vir ernstige seksuele misdade teen minderjariges gevonnis is.
Richard Isaacs is verlede Dinsdag (30 September) lewenslange tronkstraf opgelê weens die verkragting van ‘n tienermeisie.
Die vonnisoplegging het gevolg nadat die 58-jarige van die Knoflokskraal-nedersetting in Grabouw op 15 Julie 2021 in verband met die misdaad, wat in Genadendal teen die destydse 13-jarige gepleeg is, in hegtenis geneem is.
Isaacs het verklaar dat hy op 13 Julie saam met sy seun en ‘n groep meisies, insluitend die slagoffer, na die Overbergse dorp gegaan het. Hy was die enigste volwassene teenwoordig en het alkohol gedrink. Hy het beweer hy kan nie onthou wat gedurende die nag gebeur het nie.
Gemeenskap reageer
Hoewel Isaacs op 2 Oktober 2023 skuld ontken het, is hy op 8 Augustus vanjaar op die aanklag van verkragting skuldig bevind nadat die staat geslagsgemeenskap sonder toestemming bewys het deur DNS-getuienis en mediese ondersoekverslae aan die hof voor te lê.
Boonop het ‘n impakverslag insae gebied oor die trauma se verwoestende en verreikende gevolge vir die slagoffer se sielkundige welstand, emosionele stabiliteit, sosiale verhoudings, onderwysvordering en gesinswerking.
Isaacs is ná sy inhegtenisneming op borgtog vrygelaat, maar word sedert sy skuldigbevinding in Pollsmoor-gevangenis aangehou.
Die taakspanleier van Knoflokskraal, Jochue Samuels, het in die lig van die vonnisoplegging aan die publikasie se susterskoerant Hermanus Times gesê: “Die Knoflokskraal-gemeenskap erken met diepe kommer die onlangse skuldigbevinding van ‘n stigterslid op aanklag van ‘n seksuele misdryf. Hoewel hierdie bevinding ontstellend is, wil ons bevestig dat geen individu se optrede die kollektiewe kultuur, identiteit of integriteit van ons gemeenskap definieer nie. Knoflokskraal is as ‘n lewende uitdrukking van inheemse herstel gestig – ‘n plek waar kultuur, genesing en selfbeskikking gelei word deur die beginsels van waardigheid, respek, aanspreeklikheid en die beskerming van die kwesbares.”
Nog ‘n bekuldigde boet
Geregtigheid het ook geskied nadat Riaan Booysen (25) van Macassar op Vrydag 29 Augustus in die Somerset-Wes-streekhof op verskeie aanklagte insluitend verkragting en seksuele uitbuiting van ‘n minderjarige gevonnis is.
Booysen is op 15 November 2022 in verband met misdade, wat tussen 2 en 9 November gepleeg is, in hegtenis geneem. Hy het die 13-jarige slagoffer op sosiale media bevriend en gesprekke via boodskappe aangeknoop. Hy het haar gevlei en later oortuig om naakfoto’s van haarself aan te stuur. Booysen het die slagoffer afgedreig met die verspreiding van die foto’s en het haar tydens ‘n ontmoeting verkrag. Hy was in aanhouding vir die duur van die hofsaak en het op 29 Augustus skuld beken nadat ‘n pleitooreenkoms aangegaan is.
Hy is soos volg gevonnis:
• Aanklag 1: Verkragting: 25 jaar gevangenisstraf (vyf jaar vir vyf jaar opgeskort);
• Aanklag 2: Seksuele voorbereiding: 10 jaar gevangenisstraf;
• Aanklag 3: Seksuele uitbuiting: Vyf jaar gevangenisstraf;
• Aanklag 4: Besit van kinderpornografie: 10 jaar gevangenisstraf.
Die vonnis vir aanklagte 2, 3 en 4 sal tegelykertyd met aanklagte 1 uitgedien word. Hy kwalifiseer vir parool ná voltooiing van twee derdes van sy gevangenisstraf.
Vonnisoplegging verwelkom
Ada Buys, die bestuurder van Patch, die Helderberg-sentrum vir kinderslagoffers van seksuele mishandeling, het haar tevredenheid met die vonnisopleggings uitgespreek. Sy sê dit stuur ‘n sterk boodskap aan misdadigers dat sulke misdade teen kwesbare kinders “nie geduld sal word nie en dat oortreders wel gevonnis sal word.
“Vir die slagoffers gee dit hoop dat die lewe vir hulle kan voortgaan ná sulke trauma”, het Buys bygevoeg.



