Boodskappe van medelye en huldeblyke stroom in vir ‘n boorling van Strand wat onlangs sy lewe in die voorste linies verloor het.
Lionel Rossi, ‘n personeellid van die Wes-Kaapse Nooddienste (EMS) en paramedikus by die Paarlse ambulansdiens, het tydens ‘n voorval in Elsiesrivier gesterf.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het bevestig ‘n lid van die nooddienste-span is Donderdag 18 Junie tragies oorlede ná ‘n breek-en-gryp-voorval in die omgewing van Jan van Riebeeck- en Eppinglaan.
“Ons kan verder bevestig dat ons personeellid nie geskiet is nie. In hierdie stadium word die presiese omstandighede rakende die voorval en die doodsoorsaak nog ondersoek. Die departement werk ten volle saam met die polisie,” lui ‘n persverklaring.
Ondersoek duur voort
Die departement veroordeel ten sterkste alle aanvalle op nooddienste-personeel en pasiënte. Die department het verder sy opregte meegevoel aan die gesin, geliefdes en kollegas betuig. Beradingsdienste is aan die departement se spanne beskikbaar gestel.
Mireille Wenger, die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, het gesê: “Ons nooddienste-personeel is toegewyde openbare gesondheidsorgwerkers wat gemeenskappe dag en nag bedien – dikwels onder uitdagende en gevaarlike omstandighede – om lewens te red. Hulle moet hul pligte kan uitvoer sonder vrees vir geweld. Aanvalle op diegene wat hul lewe aan die versorging van ander wy, is onaanvaarbaar en uiters ontstellend.”
Kapt. FC van Wyk, ‘n polisiewoordvoerder, het gesê: “Die Elsiesrivier-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer ná die voorval in Riebeeckstraat oorkant die oop veld in Leonsdale, Elsiesrivier, waarin ‘n 57-jarige man dood is. Geen sigbare beserings kon aan sy liggaam gesien word nie. Hy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. ‘n Lykskouing sal uitgevoer word om die oorsaak van dood te bepaal. Ondersoeke duur voort.”
Ná aanleiding van berigte oor verdagtes wat aan breek-en-gryp-voorvalle in die omgewing gekoppel word, het Van Wyk gesê: “Wees asseblief daarvan bewus dat die saak waarna u verwys, nog ondersoek word. Daar is tans geen nuwe ontwikkelinge om met die media te kommunikeer nie.”
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte by 021 928 1400 te kontak, of Misdaadstop by 08600 10111 te skakel.
‘Sagte reus met ‘n liefde vir mense’
‘n Naasbestaande het met liefdevolle herinnering gedeel dat Rossi ‘n sagte reus met ‘n diepe liefde vir mense was – en dit is juis hoekom hy ‘n paramedikus geword het.
Hy is in Strand gebore as seun van Dulcie en Samuel Rossi. Hy was een van agt sibbe en sy ouma het jare lank in Sewendestraat gewoon – ‘n huis wat steeds deur familie bewoon word.
Rossi het sy skoolloopbaan by Rusthof Primêr met standerd 6 voltooi, waarna hy na die Hoërskool Gordon is.
Hy het eers as meganikus begin werk en hom later as paramedikus bekwaam. Sy eerste pos was by die Somerset-Wes-ambulansdiens.
Rossi het later na Paarl verhuis en sy loopbaan daar voortgesit.
“Sy werk het vir hom alles beteken en hy was verskriklik lief vir sy twee kinders,” het die familielid gesê. “Die hele familie, van beide kante af, is verskriklik hartseer.”
Rossi het destyds ook vir die St. George’s-rugbyklub gespeel, en Reuben Riffel het in die lig van die verlies namens die klub, oudspelers en spanmaats hul innige meegevoel aan sy familie betuig. “Hy was ‘n gedissiplineerde speler met ‘n innemende geaardheid wat hom geliefd onder sy spanmaats gemaak het. Hy het altyd ‘n grappie gedeel.”
Grootwordvriend en Strand-bekende Julian Jansen het gesê: “Dit was nie vreemd dat Lionel, met sy sagte en omgee-hart vir mense, juis paramedikus geword het nie. Hy was ’n teenwoordige pa en lief vir sy kinders. Sy liefde vir hulle en sy werk was altyd sigbaar en passievol. Hy was toegewyd, en ons as sy jeugvriende in Strand was, en is, so trots op hom.
“As jong seun het hy uitgeblink in karate by Sensei Vincent Februarie se karateklub, en dit is juis daar waar hy dissipline geleer het. Hy het ongeregtigheid nie geduld nie, en ek dink dit is dalk die rede dat hy instinktief agter die rowers aan gehardloop het tydens die tragiese insident.
“Ons harte is gebreek deur hierdie tragedie – dit kom niemand toe. Ons soek geregtigheid vir Lionel en al die slagoffers op daardie gevaarlike padgedeelte.”
Rossi word oorleef deur sy vrou, kinders en vyf sibbe.
‘n Roudiens vind Donderdag (25 Junie) om 19:00 by Annunciation-anglikaanse kerk in Paarl gehou; ‘n begrafnisdiens word Saterdag om 10:00 met die besigtiging om 09:30 gehou.






You must be logged in to post a comment.