‘n Tiener en ‘n jong man staar moordklagtes in die gesig ná ‘n noodlottige bendesteekvoorval wat Vrydagaand (13 Maart) in Casablanca chaos veroorsaak het.
Volgens kol. Jacqui Johnson, die bevelvoerder van die Strand-polisie, het die voorval omstreeks 23:55 in O’Connell-rylaan plaasgevind, waar skote geklap het en drie mense gesteek is. Een slagoffer is noodlottig gewond terwyl twee ander na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Die 17-jarige en 23-jarige verdagtes is in hegtenis geneem en van moord aangekla sowel as twee klagtes van poging tot moord en ernstige aanranding.
Volgens ‘n ooggetuie wat in die gebied woon, het die voorval begin toe twee teengestelde bendegroepe mekaar op die hoek van Cassies-pad en O’Connell-rylaan met messe begin aanval het. Die slagoffer wat doodgesteek is, het in ‘n erf in O’Connell-rylaan ingehardloop, waar hy na bewering probeer skuil het.
Die ooggetuie beweer hoewel die Strand-polisie die toneel besoek het, dit nie die bendes veel geskeel het nie, want hulle het steeds klippe na mekaar gegooi.
Video-opnames wat op WhatsApp-groepe gedeel is, toon oproer wat vermoedelik ‘n bendegeveg is. Die voorval het groot kommer in die gemeenskap veroorsaak aangesien inwoners glo dat dit bendeverwant is, maar die polisie het dit nie bevestig nie.
Weens hierdie kommer is ‘n gemeenskapsvergadering Sondag 15 Maart gehou waar Casablanca-inwoners die voorval bespreek het.
Die ooggetuie sê ‘n tussentydse veiligheidskomitee is gestig omdat die bendegeweld in Casablanca weer hand-uit ruk en hulle beplan ook om ‘n veldtog te hou om teen die bendegeweld te betoog.
Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) deel hierdie kommer weens die algemene en voortdurende geweld in die dorp – veral in gebiede soos Casablanca en Gustrouw.
“Sulke geweld plaas onskuldige inwoners in gevaar en skep vrees in ons gemeenskappe, aangesien bendeverwante skietery en onwettige vuurwapens ‘n groot uitdaging in baie gebiede van die Wes-Kaap bly,” sê Brent Louis, ‘n woordvoerder vir die Strand-GPF.
Hy verwys na ‘n soortgelyke voorval wat na bewering in Gustrouw plaasgevind het, waar ‘n man geskiet en gewond is.
“Voorvalle soos hierdie beklemtoon die dringende behoefte vir die gemeenskap om saam met wetstoepassings- en misdaadbestrydingstrukture te werk om die probleem van onwettige vuurwapens en bendeaktiwiteite aan te pak,” sê Louis.
Intussen het die twee verdagtes Maandag (16 Maart) die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn.


