Danie Ackermann Primêr se skoolhoof sluit kantoordeur ná 36 jaar

Danie Ackermann Primêr-skoolhoof Mark Manus groet.
Mark Manus sal ná 36 jaar in die onderwys, waarvan hy die laaste ses jaar as skoolhoof van Danie Ackermann Primêre Skool in Somerset-Wes gedien het, sy kantoordeur toetrek met ‘n erfenis van toewyding aan leerders se welstand en ‘n passie vir die menslike verbinding wat onderwys moontlik maak. Foto: Jamey Gordon

Mark Manus, die geliefde skoolhoof van Danie Ackermann Primêre Skool in Somerset-Wes, sal môre (Donderdag 30 April) die skoolklok die laaste keer lui en sy kantoordeur ná 36 jaar se toegewyde diens die laaste keer agter hom toetrek.

“Dit is tyd vir vernuwing en die erfenis wat ons gebou het, trots oor te gee,” sê Manus, wie se vriendelike gesig besoekers getrou met warmte gegroet het.

Noudat hy nie elke dag vroeg hoef op te staan nie, moet Manus eers gewoond raak daaraan om sonder die skoolklok se roetine te leef en self besluite te neem oor hoe sy dag lyk. Hy hoef die eerste keer in ‘n lang tyd nie volgens ‘n streng skoolskedule te leef nie – ‘n vreemde vryheid ná dekades van klokslag-roetine.

Hy hoop om in sy aftrede meer by die gemeenskap, waar hy al 30 jaar woon, betrokke te raak. “Die tyd sal leer wat hierdie nuwe hoofstuk inhou,” sê hy.

Sy loopbaanreis

Manus het sy laerskoolloopbaan tot standerd vyf by Somerset-Wes Metodiste Primêr voltooi, vir standerd ses (graad 8) by Danie Ackermann aangesluit en in 1986 aan die Hoërskool Gordon matrikuleer.

Hy het sy onderwysdiploma by Athlone Kollege behaal en ‘n BA-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi.

Sy onderwysloopbaan het by Temperance Town Primêr in Gordonsbaai as plaasvervanger begin en hom na Wave­ren Primêr in Tulbagh en Bakerville Primêr in Gouda geneem voordat hy hom by Jean Gant Primêr op die Lourensford-landgoed, waar hy gekombineerde klasse onderrig het en tot departementshoof bevorder is, aangesluit het.

Hoewel hy nooit gedroom het om ‘n loopbaan in onderwys uit te kerf nie, het sy liefde vir die beroep by Jean Gant gegroei. “Die kinders en ouers in daardie geslote gemeenskap, waar ek multiklasse moes onderrig, sport koördineer, geleent­hede reël – só na aan onderwys sal ons nie weer kom nie,” verduidelik hy.

Die oorgang van Jean Gant met 234 leerders na Danie Ackermann met meer as 800 was ‘n groot aanpassing. Hy het die pos as adjunkhoof op 1 April 1991 aanvaar en is op 1 Januarie 2018 as skoolhoof aangestel.

“Ek het baie as hoof waargeneem, maar toe my brief van permanente aanstelling deurkom, was ek senuweeagtig. Ek het geweet ek sal nou alle verantwoordelikhede moet dra. Ek was sprakeloos toe die kringbe­stuurder, dr. Henk Punt, my gevra het om die personeel bymekaar te roep. Hy het die brief voorgelees en my gevra om by die personeellokaal se deur te staan. Almal het my ‘n handdruk gegee. Ek het my emosies probeer beheer,” onthou hy.

Onvergeetlike oomblikke

Op die vraag watter situasie sy hart geraak het, glimlag hy met herinneringe. Veral een Danie Ackermann-leerder staan uit – ‘n seun sonder bene, wat die skool se trappe sonder hulp bemeester het. “Sy deursettingsvermoë was ongelooflik. Hy het in standerd vyf selfs onderhoofseun geword.”

Die grappigstes sluit in onderwysers met onpaar skoene vir sport, terwyl die hartseerste was wanneer leerders hulle veel te jonk verlaat het. Maar die trotsste oomblikke maak alles die moeite werd: “Om leerders te sien wat goeie plekke in die werkswêreld inneem en steeds die skool kom besoek.”

As ervare opvoeder het die voortdurende verandering aan die kurrikulum en die afname in ouers se betrokkenheid hom die meeste geraak. Wat werksuitdagings makliker gemaak het, was sy familie se bystand. “Hulle het geweet wanneer ek deur moeilike tye gaan en my alleen gelaat wanneer nodig,” sê hy.

Sy vrou se kommentaar: “Jy het die keuse gemaak om aansoek te doen – doen nou wat jy moet doen.”

Sy erfenis

Wanneer Manus oor sy erfenis nadink, is sy wens eenvoudig: “Leerders moet steeds in ‘n veilige, skoon skoolomgewing onderrig word.”

Aan sy opvolger gee hy praktiese raad: “Wees altyd pligsgetrou en stel ‘n voorbeeld.”

  • Loop jy nog oudleerders raak? Vertel ons van ‘n spesiale hereniging.

Ja, oud-leerders word steeds raakgeloop, en die respek wat hulle steeds betoon en wat hulle bereik het, asook diegene wat net hulself in die lewe gebly het, gee ‘n mens koue rillings!

  • Hoe het jy dissipline oor die jare hanteer?

Deur te alle tye bestendig op te tree, die voorbeeld te stel en nie na die individu te kyk nie, maar na die situasie; dan ook deur te luister en nie te vinnig te oordeel nie.

  • Voltooi hierdie sin: “ ’n Goeie skoolhoof is …”

Een wat luister, waarneem, deursigtig is, pligsgetrou is en te alle tye ‘n voorbeeld stel.

  • As jy môre weer kon begin, wat sou jy anders doen?

Niks. Die aanpassings moet plaasvind soos wat die tyd en die lewe dit vereis.

  • Watter “skoolhoof-truuks” en “supermagte” ken net jy?

Wanneer kinders in die kantoor kom, gaan ek aan met waarmee ek besig was. Laat hulle sit, rustig raak, en tussen-deur vra ek allerhande vrae voordat ek by die gebeure kom. Glo my – hulle vertel! En om stil te bly in vergaderings en byeenkomste – dan hoor jy die speld val.

  • Laaste boodskap vir jou skoolgemeenskap?

Ouers, bly betrokke. Leerders, gee julle beste. Onderwysers, lei en leef jul roeping uit. Onderwysers, leerders en ouers – onthou: Leef die leuse van die skool uit: Beveg Onkunde.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 29 April 2026
    DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 29 April 2026

Gift this article