Tommy Dellkritiek na motorongeluk in Nelspruit
Helderberg se countrylegende Tommy Dell is kritiek in die hospitaal ná ‘n noodlottige Nelspruitse ongeluk wat twee lewens geëis het. Foto: Facebook/Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga Laeveld-en KZN Noord-streek.

Countrysanger Tommy Dell kritiek ná ernstige motorongeluk

Tommy Dellkritiek na motorongeluk in Nelspruit
Helderberg se countrylegende Tommy Dell is kritiek in die hospitaal ná ‘n noodlottige Nelspruitse ongeluk wat twee lewens geëis het. Foto: Facebook/Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga Laeveld-en KZN Noord-streek.

Die Helderberg-gemeenskap is geskok nadat die country-musikant Tommy Dell, ‘n geliefde plaaslike inwoner, ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem is ná ‘n ongeluk in Nelspruit Saterdagaand (5 September) wat twee mense se lewe geëis het. Verskeie ander is beseer.

Volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van die Mpumalanga departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het die ongeluk omstreeks 22:00 plaasgevind.

Die botsing het na berig word ‘n sedan-motorvoertuig en ‘n klein bakkie ingesluit. Mmusi het gesê die motor was besig om van die Mbombela-kant af in Hermansburgweg in te draai, terwyl die bakkie reguit van Barberton in die rigting van Mbombela gery het toe die twee voertuie in ‘n T-botsing betrokke was.

Twee vroulike insittendes van die motorvoertuig – geïdentifiseer as Mara van der Bergh en Samantha Fuller – het op die toneel gesterf. Twee ander insittendes is ernstig beseer en nog twee het ligte beserings opgedoen.

Dell was een van die voertuig se insittendes wat ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem is.

Bok Radio het die nuus Sondagoggend (6 September) op sy Facebook-blad gedeel: “Dit is met groot hartseer dat Bok Radio die nuus moet deel dat een van ons omroepers en countrymusiek-bekende Tommy Dell gisteraand in Nelspruit in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was. Oom Tommy se toestand is kritiek maar stabiel. Ons gebede is met sy familie, vriende en kollegas, en met die ander passasiers. Ons bid dat God sy hand van genesing oor Oom Tommy sal hou en dat hy volkome sal herstel.

“Oom Tommy het vroeër die week sy country-program vir vandag opgeneem omdat hy gisteraand in Nelspruit opgetree het. Die program sal voortgaan soos beplan, soos dit Oom Tommy se wens sou wees.

“Ons sal meer inligting verskaf soos ons dit van sy familie ontvang. Bid asseblief saam met ons vir Oom Tommy.”

Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga Laeveld- en KZN Noord-streek het later daardie aand die volgende geplaas: “Dit voel nog onwerklik om te dink dat Tommy Dell, Mara en Samantha so onlangs nog saam met ons by ons geselligheid was. Vandag is ons harte swaar ná die tragiese nuus van hul ongeluk.

“Ons dink met groot hartseer aan Mara van den Bergh en Samantha Fuller en hul families, en aan die ongelooflike leemte wat Mara in die musiekbedryf en in soveel mense se lewe laat. Rus sag.

“Ons gedagtes en gebede is ook by Tommy Dell wat nog kritiek in die hospitaal lê. Ons respekteer die familie se versoek om privaatheid en vra dat almal hulle gedurende hierdie uiters moeilike tyd die nodige ruimte gee. Ons dink ook aan Tommy se dogters en familie terwyl hulle hierdie beproewing deurstaan.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 2 September 2026
    DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 2 September 2026

Gift this article