’n Jong man is Dinsdagoggend 24 November in Strand in ’n skietvoorval in Broadlandspark doodgeskiet.
Sers. Janine Memeza, ‘n woordvoeder vir die Strand-polisie, het bevestig die voorval het om 03:45 in Broadlandspark afgespeel.
Die 33-jarige slagoffer is in Petuniastraat aangetref nadat die skieter of skieters op hom losgebrand het. Hy het aan twee sigbare skietwonde – een in die kop en een in die rug – op die toneel beswyk.
Die Strand-polisie het ’n saak van moord geopen en die ondersoek duur voort.
Niemand is nog in verband met die skietvoorval in hegtenis geneem nie.
Gemeenskapsleiers beklemtoon die belang van samewerking in die lig van die moordondersoek.
LEES OOK: Een dood, twee gewond in gewelddadige voorval in Strand
Lillian Albertyn, die voorsitter van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum, sê sy is bedroef oor die lewensverlies, maar ook die onderliggende omstandighede rakende die slagoffer se dood.

“Skietvoorvalle in die woongebied het toegeneem, maar niemand in die gemeenskap wil met inligting na vore kom nie,” verduidelik sy.
Albertyn sê dit maak die polisie se werk baie moeiliker en help misdadigers om aan die gereg te ontkom. “Ek doen ’n beroep op die gemeenskap om hul stem te laat hoor, sodat die misdadigers in hegtenis geneem en vir hul misdade gestraf kan word,” beklemtoon sy.
Enigeen met inligting oor die voorval word versoek om die Strand-polisie by 021 854 9100 of 082 850 9628 te skakel.
LEES OOK: Moordsaak sloer al 2 jaar: Ma veg vir seun se geregtigheid





You must be logged in to post a comment.