Die Gordonsbaai-skrywer Tanya O’Connor se jongste boek, Ag fok, Tanya, is sedert Maandag (15 Junie) by boekwinkels reg oor die land beskikbaar en dit beloof om net so ongefiltreerd en eerlik te wees soos die titel aandui.
Die boek, uitgegee deur Naledi, handel oor die alledaagse chaos van menswees: menopouse en plooie, spoedboetes en ‘n skerp tong, selluliet en vergeet, verlies en trauma, maar ook lag en die ongemaklike genade van ouer word. Dit is, in O’Connor se eie woorde, ‘n boek vir daardie “ag bleep”-oomblikke – die oomblikke wat ‘n mens nie noodwendig kies nie, maar wat in verskillende vorms na jou aangerol kom.
“Ek het Ag fok, Tanya geskryf vir myself, en ek glo vele sal daarby aanklank vind,” sê O’Connor. “Ek skryf sonder terug- hou, dit is wat dit is en dis net genade. Die dood maak seer en trauma gee woema vir vorentoe, want life goes op. Dis goed om vir jouself te lag, en om die ego af te lê, sorg vir enorme vryheid. Skaam is nie in my woordeskat nie.”
O’Connor is geen nuwe stem in die Afrikaanse letterkunde nie. Sy is bekend vir verskeie “eerstes” op die plaaslike uitgewerybedryf: sy het die eerste blogboek in Afrikaans, Hallo lewe, geskryf, asook die eerste inkleurboek vir volwassenes, Kom, kleur in – ‘n topverkoper waarvan meer as 16 000 eksemplare verkoop is. Nog vier inkleurboeke vir volwassenes het gevolg, almal deur haarself met pen op papier geïllustreer. Haar Koebaai stres-joernaal (2015) en Koester (2023) het die aanloop tot hierdie jongste publikasie gevorm.
In Ag fok, Tanya dink O’Connor na oor broosheid, geloof, kuns en die vryheid wat kom wanneer ‘n mens ophou om alles te probeer regmaak en begin om jouself te omarm – en sy vra op haar kenmerkende wyse hoeveel keer die Here nie iets soortgelyks oor hierdie “probleemkind” sê nie.
“Dis nou die tyd vir plakkies aantrek, want ‘n mens loop makliker teenaan die aarde daarmee as met stiletto’s,” sê sy.
Die boek, Ag fok, Tanya, is tans by boekwinkels landwyd en aanlyn by www.naledi.co.za beskikbaar. Stuur ‘n e-pos aan info@naledi.co.za of kontak O’Connor direk per e-pos by banshee.tanya@icloud.com vir navrae.



