Kwikspar Goede Hoop vier 25ste bestaansjaar.
‘n Kwarteeu van hartstog en toewyding: Collette Storm, Anita Doyle en Conan Doyle – die sake-trio agter die KwikSpar Goede Hoop se 25-jaar lange suksesverhaal. Foto’s: Jamey Gordon

KwikSpar Goede Hoop vier 25 jaar as Strand-gemeenskapsbaken!

Kwikspar Goede Hoop vier 25ste bestaansjaar.
‘n Kwarteeu van hartstog en toewyding: Collette Storm, Anita Doyle en Conan Doyle – die sake-trio agter die KwikSpar Goede Hoop se 25-jaar lange suksesverhaal. Foto’s: Jamey Gordon

Altesaam 25 jaar gelede het die Doyle-gesin ‘n waagmoedige sprong van geloof geneem en die Strand-gemeenskap sou daarna nooit weer dieselfde wees nie.

Nadat hulle in 2001 die Spur in Stellenbosch verkoop het, het hulle met oop arms en ‘n vars droom die plaaslike KwikSpar in die Goede Hoop-buurt oorgeneem.

Vandag, ‘n kwarteeeu later, bars dié geliefde gemeenskapsbaken van trots en dankbaarheid terwyl familie, personeel en lojale klante saam ‘n reuse-mylpaal vier!

Vir die sake-trio agter die toonbank – ma Anita Doyle en haar kinders, Conan Doyle en Collette Storm – beteken hier- die 25-jaar mylpaal baie meer as net ‘n getal op ‘n kalender.

KwikSpar Goede Hoop vier 25ste bestaansjaar.
Sonder die personeel sou dit nie moontlik gewees het nie! Die KwikSpar Goede Hoop-familie vier 25 jaar saam, en dit word behoorlik gevier – saam met dié span, waaronder werknemers wat vir baie jare lank diens aan die geemeenskap gelewer het.

Op ‘n professionele vlak is die familie oorstelp van dankbaarheid vir die gemeenskap se onwrikbare ondersteuning deur die jare, waarsonder dié onderneming se verhaal eenvoudig nie moontlik sou gewees het nie.

Maar dieper as enige syfer of sukses, dra die winkel ‘n betekenis wat ver verby die sakeboeke strek.

“Die mense van Goede Hoop was eers my klante, toe my vriende – en vandag dra ek hulle in my hart as deel van my eie familie,” sê Conan, mede-eienaar. “Dít is die ware rykdom van 25 jaar.”

Gevra na die enkelbeste oomblik van trots, glimlag hy. Dit is byna onmoontlik om net één uit te sonder, want die afgelope kwarteeu is gevul met talle kosbare herinneringe en mylpale wat elke dag herinner waarom hulle dit doen.

Elke klein oorwinning, elke glimlag oor die toonbank en elke oomblik waar hulle ‘n verskil aan iemand se dag kon maak, het sy eie plek in die familie se harte. Saam vorm dié oomblikke die verhaal van wie hulle is.

Die winkel self het ‘n merkwaardige reis agter die rug. Toe die familie die eerste keer op die hoek van Broadway en Da Gama aangekom het, was dit ‘n effens verwaarloosde en onopvallende ruimte – ‘n ware lelike eendjie.

Deur jare se noue samewerking, daaglikse toewyding en ‘n toegewyde span het hulle dié hoek omskep in iets waarop die hele gemeenskap trots kan wees.

Onmiskenbare baken

Vandag is die KwikSpar nie net ‘n winkel nie – dit is ‘n instelling, ‘n baken en ‘n bron van plaaslike trots.

Soos enige onderneming wat ‘n kwart-eeu oorleef het, ken die sake-eienaars ook stormagtige tye. Die moeilikste periode was nie, soos ‘n mens dalk sou verwag, die Covid-19-pandemie nie, maar die internasionale bankkrisis van 2008-’09, toe verbruikers se besteebare inkomste dramaties gekrimp en elke rand getel het. “Dit was in sekere opsigte ‘n meer uitdagende tyd as Covid,” erken Conan.

Tog het die familie deurgedruk, gewa- pen met veerkragtigheid en ‘n diepgewortelde geloof in hul gemeenskap. En dié gemeenskap het dit terugbetaal.

Die verhouding tussen die KwikSpar en Strand se inwoners is vir die eienaars nie net ‘n sakestrategie nie – dit is die kloppende hart van alles wat hulle doen. “Sonder Strand en sy mense sou die winkel eenvoudig nie bestaan nie,” sê Conan.

Die KwikSpar is letterlik in die hartjie van die gemeenskap geleë, en die familie gee dit elke dag terug deur donasies aan sopkombuise, skole, kerke, tehuise en sporttoere – stille bydraes wat oor jare ‘n blywende verskil gemaak het.

Personeel dra onderneming

Maar ‘n onderneming is net so sterk soos die mense wat dit daagliks laat werk, en die Doyle-familie is die eerste om dit te erken. Jacqueline “Jackie” Booysen is van dag één af deel van die KwikSpar-gesin – ‘n verhaal wat byna nooit was nie. Net dae voor die nuwe eienaars sou oorneem, is sy deur die vorige eienaar in die pad gesteek. Anita het haar in trane gesien, gevra wat fout is, na haar verhaal geluister en haar op die plek gevra om terug te kom.

Vandag bestuur Jackie die kombuis en het sy reeds verskeie rolle in die winkel vervul – ‘n bewys van die familie se mensgerigde benadering.

Die kantoorbestuurder, Lindsey Boer, staan ook al 23 jaar lank getrou aan boord, skouer aan skouer met die mede-eienaar Collette.

Langs die familie se deursettingsvermoë het die ondersteuning van die Spar-groep ook ‘n onmisbare rol gespeel. Conan sonder veral die vorige areabestuurder, George Perreira, uit.

“Hy was altyd beskikbaar om advies te gee. George se kennis van die plaaslike kleinhandelsektor was van kardinale belang. Ek het hom vertrou omdat hy keer op keer die beste raad moontlik gegee het – vir die besigheid, maar ook vir ons as familie.”

Dit is die soort verhouding wat nie in ‘n handleiding staan nie, maar wat jare lank die verskil maak.

Gevra na die grootste geheim agter 25 jaar se volgehoue sukses, antwoord Conan sonder huiwering: vernuwing. “Mens kan nie jou kop in die sand druk en groter faktore in die samelewing ignoreer nie. Jy moet aanpasbaar wees.”

Dit is ‘n eenvoudige wysheid, maar een wat die eienaars keer op keer in die praktyk bewys het – deur krisisse, deur verandering en deur ‘n wêreld wat vinniger as ooit tevore skuif.

Wanneer dit by vier kom, doen die KwikSpar-familie dit op die enigste ma- nier wat hulle ken – met die gemeenskap voorop gestel. Om die 25-jaar-mylpaal te vier, gee die winkel meer as R100 000 terug aan hul lojale klante in die vorm van luukse geskenkpakke, kontantpryse, Lego-pryse vir die kleintjies, ‘n wegbreektoer ter waarde van R25 000 en weeklikse trollie-dashes wat reeds groot opwinding op sosiale media ontketen het.

Want vir dié sake-familie is die grootste beloning van 25 jaar nie ‘n sertifikaat op die muur nie – dit is die glimlagte van die mense wat hulle elke dag kom bedien.

Doyle deel lesse ná jare met Strand-mense

  • Hoe het klante se gedrag en inkopiegewoontes oor die dekades verander?

“Ons was geseënd met die winkel se ligging. Gelukkig bly braai ook gewild onder Strand se mense – ek sou sê amper elke dag is braaidag! Daar was kleiner veranderinge met die koms van nuwe tegnologie . . .  ons verkoop nou vapes, wat ons 20 jaar gelede nie gedoen het nie. Die ander verskuiwing is dat ons klante van 25 jaar gelede se kinders nou by ons koop. Dit is besonders om gesinne voor jou te sien ouer word en verander.”

  • Hoe bly julle mededingend teen groter supermarkte en nuwe rolspelers in die mark?

“‘n Mens moet die behoeftes van klante belangriker as suiwer wins ag.”

  • Watter raad sou julle gee aan iemand wat vandag daaraan dink om hul eie kleinhandel-franchise te begin?

“Wees altyd daar vir jou klante – hulle betaal jou salaris.”

  • As julle 25 jaar terug kon gaan en julself een stuk raad kon gee, wat sou dit wees?

“Hmm . . . Trek vroeër en koop dadelik die winkel!”

KwikSpar Goede Hoop vier 25ste bestaansjaar as Strand-gemeenskapsbaken.,
Jacqueline “Jackie” Booysen se verbintenis met die KwikSpar het begin met ‘n eenvoudige verwysing – dit was haar skoonma wat haar na die winkel gestuur het. Het sy ooit gedink het sy sou so lank bly? “Nee,” sê sy laggend. Maar die lewe het ander planne gehad, en vandag is Jackie die gesig van die winkel se kombuis – ‘n lang pad van haar eerste dae as bakkeryassistent en kassier af. Wat haar al die jare hier gehou het, is eenvoudig: “Ek geniet my werk.” Maar dieper as dit is die mense en die gevoel van tuiste wat die KwikSpar vir haar geskep het. “Dit voel meer soos ‘n gesin,” sê sy. “Ons ken mekaar al so lank, het lief geraak vir mekaar, en hulle is altyd daar vir jou.” Vir ‘n glimlag hoef Jackie nie ver terug te dink nie. Haar grappigste herinnering? “Mnr. Doyle het my eendag met sy tamaties gegooi!” vertel sy. Onder haar geliefde vaste klante is daar ‘n paar kostelike gesigte, maar haar absolute gunsteling is “Mevrou Sophia” – ‘n band wat oor jare gevorm is. Die 25-jaar- mylpaal het vir Jackie ‘n persoonlike betekenis: “Ondervinding van Mevrou Doyle.” Dit is die stille erkenning van ‘n mentor se invloed op haar lewe en loopbaan. Haar boodskap aan die Doyle-familie: “Dankie vir die kans wat julle my gegee het.”
KwikSpar Goede Hoop vier 25ste bejaansjaar as Strand-gemeenskapsbaken.
Lindsey Boer se pad na die KwikSpar was een van die gelukkige toevallighede wat ‘n lewe vir altyd veran- der.
“ ’n Vriend het my gevra of ek winkelwerk wil doen,” vertel sy. “Ek het my CV ingehandig, die werk gekry – en die res is geskiedenis.” Dat sy 23 jaar later nog steeds daar sou wees, het sy nooit voorsien nie. Sy het haar loopbaan as kassier begin en werk vandag in die kantoor – ‘n reis wat haar deur verskeie rolle en verantwoordelikhede geneem het. Wat haar al hierdie jare laat bly het, is eenvoudig: “Die mense. Die omgee van die eienaars.” Dis ‘n antwoord wat nie verdere verduideliking nodig het nie. Vir lag-stof hoef ‘n mens nie ver te soek nie. Lindsey onthou glimlaggend hoe “Mnr. Doyle” heeltyd op die kamera sit en Adrian eendag kom vra hoekom die agterdeur oop is – net om dan aan sy ore te vat en te vra wat dít is en waarvoor hy dit gebruik. “Dit was te snaaks,” sê sy. Gevra of dit meer soos werk of gesin voel, sê Lindsey: “Dit is van albei. Hulle help mens baie met huislike probleme en gee advies – maar hulle kan streng raak as dit by werk kom.” Haar opsommende woorde vir die eienaars? “Liefdevol en goedhartig.” Die 25-jaar-mylpaal beteken vir Lindsey ‘n leeftyd se groei. “Ek het baie geleer en baie ondervinding opgetel.” En haar boodskap aan die Doyle-familie op hierdie groot dag is net so hartlik soos die plek self: “Baie dankie vir al die jare, die omgee – ek hoop daar gaan nog meer wees.”
KwikSpar vier 25ste bestaansjaar as Strand-gemeenskapsbaken.
Vir Lycken Young het ‘n eenvoudige wenk van Jackie Booysen haar lewenspad vir altyd verander. “Jackie het gesê die KwikSpar soek mense,” onthou sy. Sy het die kans gewaag – en nooit teruggekyk nie. Of sy ooit gedink het sy sou so lank bly? “Nee, nooit,” sê sy. Haar loopbaan het by die bakkery begin, waar sy haar eerste stappe in die wêreld van kleinhandel gegee het. Vandag is Lycken die bestuurder – ‘n bewys van haar toewyding, harde werk en die vertroue wat die Doyle-familie deur die jare in haar geplaas het. Vir Lycken is KwikSpar Goede Hoop meer as net ‘n werkplek. “Dit voel vir my soos my tweede huis,” sê sy warmhartig. “Die mense met wie ek werk, voel soos familie.” Dié familiegevoel strek ook tot by die lojale klante. Sy het ‘n paar gereelde gesigte wat sy al jare lank ken – een wat net instap vir ‘n gesellige gesels, en ‘n ander wat elke keer ‘n nuwe grappie in die mou het. “Hulle maak my dag.” Die verhouding tussen kollegas beskryf sy as eg en eg menslik: “Ons voel meer soos ‘n familie – ons korrigeer mekaar as iemand verkeerd is, en stry so af en toe.” Haar drie woorde vir die eienaars? Streng en behulpsaam.
Haar boodskap aan die Doyle-familie op hierdie groot dag kom reguit uit die hart: “Dankie vir jul omgee. Almal sê dit nie altyd nie, maar julle voel soos ons ouers – streng, maar vol liefde. Julle gee om en help wanneer ons hulp nodig het. Dankie.”
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article