Vir die meeste mense bly ‘n nuwe motor net ‘n droom. Hoewel die kanse skraal was, was die geluk groot vir ‘n Gordonsbaai-ma van drie wat danksy ‘n trekking met splinternuwe wiele spog.
Veronique Isaacs onthou nog goed hoe verras sy was toe sy die nuus ontvang het dat haar kaartjie uit al die ander getrek is.
“Ek was geskok, ek kon dit nie glo dat ek die motor gewen het nie. Uit al die kaartjies is my naam getrek. Wat was die kanse?” sê sy.
Dit was egter ‘n uitkoms wat sy nooit sou kon voorspel het nie. Isaacs erken dat sy nooit werklik verwag het om te wen nie – en dit is maklik om te verstaan hoekom.

“Ek het nog nooit iets gewen nie en het ook nie verwag om hierdie keer te wen nie,” sê sy.
Nietemin was dit ‘n oomblik wat sy dadelik met haar geliefdes wou deel. Die eerste mense wat die groot nuus gehoor het, was dié wat die naaste aan haar is, haar man, Reinhard, en haar kinders.
Die bemarker Franci de Jager verduidelik dat die Laerskool Hendrik Louw en Hoërskool Strand gedurende April en Mei met ‘n fondsinsameling begin het waarin deelnemers ‘n splinternuwe Suzuki Celerio kon wen.
“Die uitgangspunt van die projek was om ‘n wenner in ons Strand-gemeenskap te kry. Ons het lootjies van R100 elk verkoop. Die hele proses is deur ‘n onafhanklike maatskappy, Adminwiz, geoudit,” sê De Jager.
Die lootjietrekking het op Vrydag 8 Mei by ‘n byeenkoms by die Laerskool Hendrik Louw plaasgevind, en die skoolhoofde van albei skole het die trekking behartig.
Opgewonde
Isaacs het ‘n lootjie ter ondersteuning van die Louwtjies gekoop – en dit is duidelik dat die skool ‘n spesiale plek in haar gesin se hart beklee.
“Die skool beteken baie vir my gesin. Al drie ons kinders was in Hendrik Louw, en ons jongste is nog daar,” sê sy.
Dit was dus geen verrassing dat De Jager en die skool se gemeenskap opgewonde was oor die uitslag nie.
“Ons was verheug toe die wenner ‘n ma van een van die Laerskool Hendrik Louw se gr.5-leerders was,” sê De Jager.
Die Laerskool Hendrik Louw se hoof, Jacques Horne, stuur namens die skoolgemeenskap sy hartlike gelukwense aan Veronique Isaacs en haar gesin met die wen van die Suzuki Celerio-lootjietrekking. “Ons is ongelooflik dankbaar teenoor ons skoolgemeenskap en ons naburige skool, die Hoërskool Strand, vir hul geesdriftige ondersteuning van hierdie fondsinsamelingsprojek, en ons is veral in ons skik dat die wenner ‘n ouer van die Laerskool Hendrik Louw is. ‘n Opregte dankie aan almal wat ‘n lootjie gekoop het, asook aan Suzuki Helderberg vir hul bydrae om hierdie inisiatief so ‘n uitstaande sukses te maak,” sê Horne.
Isaacs laat nie na om haar dankbaarheid teenoor almal betrokke by die trekking uit te spreek nie.
“Ek wil net ‘n massiewe dankie sê aan die Laerskool Hendrik Louw, die Hoërskool Strand, Suzuki en almal wat betrokke was om die lootjietrekking so ‘n sukses te maak. Dankie vir jul harde werk en toewyding in die beplanning en reëling van die geleentheid. Ek is so dankbaar vir hierdie ongelooflike prys. Nogmaals dankie vir alles wat julle vir ons kinders en gemeenskap doen,” sê sy.
En die groot vraag – het sy al agter die stuur ingeklim? Ja, en sy het geen klagtes nie. “Dit voel goed om in ‘n splinternuwe motor te ry,” sê Isaacs, wat erken dat sy nog steeds nie heeltemal die werklikheid daarvan besef nie.
Haar eerste rit het ‘n besondere bestemming gehad. Sy het dadelik na Stellenbosch gery om haar ouers die nuwe aanwins te gaan wys – ‘n oomblik wat sekerlik net so onvergeetlik was as die wen self.
En natuurlik was haar man en kinders ook langs haar as haar eerste passasiers. Alhoewel Isaacs erken dat sy nog altyd gedroom het van ‘n Suzuki Jimny, is sy meer as tevrede met haar nuwe wiele. “Ek is baie gelukkig met die kar.”





