“Dit beteken vir my alles om ‘n ma te wees. Ek het sonder ‘n ma grootgeword en ek kan nie kyk hoe ander my kinders grootmaak nie – dis hoekom ek baie keer as ek voel om op te gee aan hulle dink.”
Dis waarom Chante Fransman (29), ‘n ma van twee dogters, aanhou veg terwyl sy vir die afgelope 15 jaar pyn verduur wat sy as ondraaglik beskryf – pyn so erg dat sy soms nie haar bene reguit kan maak of kan loop nie.
Sy is gebore en getoë in Gustrouw, Strand, waar haar ma se tannie en oom haar grootgemaak het.
“Ek het my ma op die ouderdom van ses jaar verloor,” vertel sy.
Sy het grootgeword en skool toe gegaan – maar op 12-jarige ouderdom het haar gesondheid begin verswak.
Fransman leef met Crohn se siekte, ‘n inflammatoriese dermsiekte. Dit is ‘n outo-immuun siekte van die dermkanaal waar die dermslymvliesvoering ontsteek is, wat ulserasie, gastroïntestinale simptome soos krampe, diarree en rektale bloeding veroorsaak. Aangesien dit ‘n outo-immuun siekte is, kan dit organe buite die derm sowel as die gewrigte, oë, vel, ensovoorts beïnvloed.
“Dit voel soos ‘n virus wat binne in jou liggaam vreet. Dit bly nie net by jou derm nie – dit versprei,” verduidelik sy.

Dit het begin met maagpyne en sy het na die kliniek gegaan, maar hulle het haar huis toe gestuur. Die pyne het egter vererger.
Vir drie jaar kon sy nie behoorlik eet nie. Sy het begin opgooi. Haar liggaam het begin verswak. Uiteindelik het sy na ‘n private dokter gegaan, wat haar na die hospitaal verwys het vir ‘n kolonoskopie. Sy is oorgeplaas na Tygerberg-hospitaal vir verdere toetse en Crohn se siekte is amptelik op 15-jarige ouderdom by haar gediagnoseer, terwyl sy die Hoërskool Gordon bygewoon het.
onsigbare siekte
Toe die dokter haar aanvanklik gediagnoseer het, het sy dit nie ten volle ingeneem nie. Dit was eers toe sy 30 pille per dag moes neem dat die werklikheid haar getref het.
Tygerberg-hospitaal sou ook die plek word waar haar eerste operasie plaasgevind het – toe ‘n gedeelte van haar derm verwyder moes word.
“My nael het begin opswel en het gebars,” sê sy.
“Ek was vel en been en het letterlik by die dood omgedraai.”
Die siekte het haar jeugjare ingrypend beïnvloed. Sy het ‘n hele jaar van skool weens hospitalisasie misgeloop. Hierdie patroon het haar in haar volwasse lewe gevolg – sy kon nie stabiele werk behou nie, want die siekte kan enige oomblik opvlam. En wanneer dit gebeur, stop alles.
Fransman word nie net fisiek geraak nie – ook haar geestesgesondheid ly daaronder.
Crohn word beskryf as ‘n onsigbare siekte – vir die buitewêreld lyk die persoon gesond, maar Fransman ly in die stilte.
“Ek loop al agt jaar met my sak. Mense kan dit nie sien nie, maar dit is elke dag my lewe,” verduidelik sy. “Dit veroorsaak dat ek soms voel ek wil net alleen wees en asof niemand vir my omgee nie.”
Bo alles affekteer die siekte haar vroulikheid. “My menstruasiepyne is moeilik omdat my derm buite is en omdat ek nierversaking het – as my maandstonde kom, is ek inmekaar gevou van die pyn.”
Maar midde-in haar lyding was daar ook goeie oomblikke – oomblikke wat haar herinner aan presies hoekom sy aanhou veg.
In 2018, terwyl sy in remissie was, het sy swanger geraak met haar oudste dogter. Dit was vir haar ‘n wonderwerk.
Ongelukkig het die siekte teruggekeer – maar omdat sy swanger was, kon die dokters niks doen nie. Ná die geboorte was sy weer vir byna ‘n jaar in die hospitaal. Dit is ‘n jaar wat sy nooit kan terugkry nie.
“Haar eerste verjaarsdag het ek uit die hospitaal gevier.”
Sy het in 2023 die lewe geskenk aan haar jongste dogter – ‘n tyd wat sy beskryf as een van haar swaarste periodes van depressie.

opvlamming
Aangesien sy die eerste in haar familie is met Crohn se siekte, hou sy haar dogters noukeurig dop en bid dat hulle nooit sal hoef te ervaar wat sy deurgemaak het nie.
“Ek wens dit niemand toe nie, veral nie my eie kinders nie.”
Vandag woon Fransman in Bettysbaai – ‘n bewuste keuse om van die geraas weg te kom en haar kragte te spaar. Maar die siekte het haar gevolg.
Haar siekte is tans in ‘n ernstige opvlamming wat nie onder beheer is nie. Fransman se immuunstelsel is so gekompromitteer dat selfs die kleinste hoeveelheid stres opvlamming kan veroorsaak – wat beteken sy moet dikwels in isolasie leef.
“Op die oomblik is daar ‘n laaste opsie – medikasie wat van oorsee af kom, maar dit is ook nie ‘n waarborg dat dit sal werk nie.”
As dit nie werk nie, sal dokters ‘n laaste operasie moet uitvoer as ‘n ingrypende stap wat beteken dat sy haar liggaam soos sy dit ken, permanent sal verloor.
Maar Fransman gee nie moed op nie; nie terwyl haar dogters haar nodig het nie.
“Hoeveel keer het ek nie by die dood omgedraai nie – en God het my gered.”
Sy het ‘n BackaBuddy-veldtog gestig om geld in te samel vir die medikasie wat haar laaste opsie is.
Om haar te ondersteun, besoek gerus: www.backabuddy.co.za/campaign/crohns-warrior





