Shafeeka Naidoo
Wyle Shafeeka Naidoo.

Gesin eis erkenning, dogter glo ‘n slagoffer van 2018-ontploffing


‘n Ontploffing het verlede Dinsdag­oggend (28 April) by Rheinmetall Denel Munition (RDM) se depot in Reedweg, Somerset-Wes, geboue en mense in omliggende gebiede laat sidder.

Die RDM-woordvoerder Lindi Rabopape het bevestig ‘n brand het ongeveer 09:50 uitgebreek. Nooddienste en RDM se eie spanne is vinnig ontplooi om die situasie te bestuur. Geen beserings is aangemeld nie. ‘n Ondersoek na die oorsaak sal gedoen word sodra die gebied veilig verklaar word.

Gemeenskapslede, veral in aangrensende gebiede soos Macassar en Paardevlei, het ‘n skokgolf gevoel, terwyl foto’s op sosiale media rook en vlamme in die verte toon.

Vir vele families het die voorval pynlike herinneringe ontketen aan die verwoestende ontploffing van 2018, toe agt werknemers hul lewe verloor het.

‘n Familie van Strand dra steeds die las van verlies nadat ‘n geliefde glo tydens die 2018-ontploffing beseer is en later na bewering aan komplikasies wat hulle direk aan die voorval koppel, oorlede is.

Haroon Middleway het op 28 November verlede jaar sy dogter, Shafeeka Naidoo, verloor. Die 76-jarige pa glo hoewel kanker as amptelike doodsoorsaak aangegee is, die inwendige bese­rings veroorsaak het wat sy volgens hom in die ontploffing opgedoen het.

Die wyle Shafeeka Naidoo.
Naidoo se amptelike RDM-werknemerskaart.

Volgens die familie het die 49-jarige in ‘n naburige gebou gewerk waar sy ammunisieverpakking hanteer het toe die ontploffing gebeur het. Sy het aanvanklik nie die volle impak gevoel nie. “Sy het nie sommer die pyn gevoel nie, maar die nag het sy begin bloed opgooi en toe begin pyn,” vertel haar moeder.

Die beserings was volgens die fami­lie ernstig en inwendig. “Haar hele binnedele het seergekry,” verduidelik familielede.

Benewens die aanvanklike swelling en pyn van die voorste borswand, het sy jare later ‘n gewas in haar rug ontwikkel. Die mediese gevolge daarvan was volgens die familie so ernstig dat sy nie weer kon werk nie.

Skuld op 2018-ontploffing

Die familie glo daar is ‘n verband tussen Naidoo se latere siekte en haar vroeëre beserings, hoewel mediese oorsaaklikheid kompleks kan wees. In haar finale fase het sy aggressiewe behandeling geweier. “Sy wou nie deur die strawwe behandeling gaan nie,” onthou haar familie met begrip.

Sy het uiteindelik hospies-sorg ontvang, waar sy haar laaste dae in ‘n omgewing van waardigheid en vrede kon deurbring.

Die familie is van mening dat nalatig­heid by die ontploffing betrokke was en beweer nie alle inligting word openbaar gemaak nie. Hulle eis erkenning en vergoeding vir wat hulle as ‘n werksverwante sterfte beskou.

“Net haar kinders. Want hulle is sonder ‘n ma,” sê Middleway toe hy gevra is wat geregtigheid vir hulle sou beteken.

Oor die oorledene onthou haar familie haar as iemand wat “baie lief was vir ander mense en omgegee het vir ander mense”.

Haar moeder sê sy huil steeds wanneer mense haar sien en oor Naidoo uitvra, “want sy was ‘n mense-mens”.

Die familie se boodskap is duidelik: hulle eis erkenning van verantwoordelikheid en billike vergoeding vir die hartverskeurende verlies wat hul kleindogters, 23 en 19, en ‘n agterkleinseun sonder ‘n geliefde ma en ouma gelaat het.

Opregte meegevoel

RDM het met navraag sy “opregte meegevoel” aan die familie van Naidoo weens hul destydse verlies uitgespreek. “Ons is bewus daarvan dat dit ‘n diep moeilike tyd vir haar geliefdes is,” het ‘n verklaring gelui.

“Die bevindinge wat met die 2018-voorval verband hou, was die onderwerp van amptelike ondersoeke, waarvan die uitslae ‘n openbare rekord is. Die departement van arbeid het ‘n openbare ondersoek na die voorval op 3 September 2018 by RDM uitgevoer en die direkteur van openbare vervolging het op 22 Augustus 2023 besluit om nie verdere vervolging na te streef nie. RDM neem sy verpligtinge ten opsigte van die gesondheid en veiligheid van sy werknemers en die omliggende gemeenskap baie ernstig op en het bestendig in ooreenstemming met sy regtelike en regulatiewe verantwoordelikhede opgetree.

“Met betrekking tot die verwysde gesondheidsaangeleenthede is RDM nie in ‘n posisie om kommentaar te lewer oor individuele mediese omstandighede nie, aangesien die aangeleenthede wat geopper is, vertroulike werknemer- en persoonlike inligting behels.

“RDM kan bevestig dat ondersteuningsmaatreëls beskikbaar gestel is aan werknemers wat deur die voorval geraak is, insluitend toepaslike fisieke en emosionele bystand in ooreenstemming met toepaslike beleide en regulatiewe vereistes.

“In soverre die familie van Naidoo enige formele eise of bekommernisse wil opper, stel RDM met alle respek voor dat hulle dit deur die toepaslike kanale doen, waar sodanige aangeleenthede op ‘n behoorlike en gestruktureerde wyse hanteer kan word.

“In hierdie stadium is RDM ongelukkig nie in ‘n posisie om enige verdere kommentaar oor die aangeleentheid te lewer nie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article