Sewentienjarige Ryan Ferus van Macassar wat Suid-Afrika in raakrugby in Ierland verteenwoordig het.
Sewentienjarige Ryan Ferus van Macassar wat Suid-Afrika in raakrugby in Ierland verteenwoordig het.

Die sewentienjarige Ryan Ferus se passie vir sport het hom uit die strate van Macassar na die internasionale raakrugbyvelde van Ierland geneem.

Ferus het die SA Touchboks in die gemengde o.18-afdeling by die 2025 Atlantic Youth Touch Cup verteenwoordig, wat van Donderdag 31 Julie tot Sondag 3 Augustus in Limerick, Ierland, plaasgevind het. Dié inwoner van Macassar het die span gehelp om sesde uit agt deelnemende lande te eindig.

Sewentienjarige Ryan Ferus van Macassar wat Suid-Afrika in raakrugby in Ierland verteenwoordig het.
Ryan Ferus (17) van Macassar, wat Suid-Afrika gehelp het om sesde te eindig in die gemengde o.18-afdeling by die 2025 Atlantic Youth Touch Cup in Ierland.

Ferus is egter nie ‘n oornagsukses nie. Hierdie internasionale prestasie het ná jare se harde werk gekom. Hy het sy passie vir sport op vyfjarige ouderdom ontdek en wou eenvoudig net in sy pa, Timothy, se rugbyvoetspore volg.

“Ek het in die strate van Macassar begin rugby speel en nou verteenwoordig ek my land op televisie,” sê Ferus.

Sy raakrugby-loopbaan het begin toe ‘n kerkvriend hom genooi het om saam met die Western Cape Islanders Touch-rugbyspan te oefen. Hy was so groen dat hy in sy eerste oefensessie nie eens geweet het watter soort rugby dit is nie.

“Maar ek het hard gewerk en die spelers rondom my het my baie gehelp om in die rugbystyl te groei,” verduidelik hy.

Vir die volgende 11 maande was dit vir hom heelwat sweet en baie trane om homself te verbeter en hom vir toetse vir die gemengde o.18-span voor te berei.

Sy naam het op Sondag 5 Desember op die keurders se lys verskyn.

“Ek was verstom toe ek my naam sien. My ouers was nog vas aan die slaap, maar ek kon nie wag om die nuus tot die volgende dag te hou nie,” sê hy.

Die toernooi het Ferus se platform geword om sy talent op die wêreldtoneel ten toon te stel. Hy het sewe uit nege wedstryde gespeel, vyf drieë gedruk en as die span se derde hoogste puntemaker geëindig.

Sy uitstaande oomblik het gekom in ‘n epiese 3-3-gelykop-stryd teen Libanon, waar hy ‘n indrukwekkende 60-m-drie gedruk het.

“Dit was ‘n ongelooflike ervaring om Suid-Afrika te kon verteenwoordig – van my eerste drie te druk tot saam met nuwe spanmaats te speel, wat my aangespoor het om my uiterste beste in elke wedstryd te lewer,” sê Ferus.

SA se veldtog het twee oorwinnings teen Skotland ingesluit – 7-4 in die rondomtalie-fase en 7-3 in die uitspeelrondes. Hulle het egter swaar nederlae teen Engeland (1-12), België (3-10) en die gasheer, Ierland (4-11), gely.

SA-speler Ryan Ferus tydens wedstryd teen Ierland by Atlantic Youth Touch Cup.
Ferus in aksie tydens Suid-Afrika se 11-4-nederlaag teen Ierland in die rondomtalie van die 2025 Atlantic Youth Touch Cup.

Die span se hartseerste uitslae was teen Wallis (6-7) en twee keer teen die Kaaiman- eilande, waar hulle albei ontmoetings met ‘n enkele punt verloor het – 6-7 in die rondomtalie en 6-7 in die vyfde/sesde uitspeelwedstryd.

Noudat Ferus internasionale sukses geproe het, het hy groter drome. “Die Atlantic Youth Touch Cup is vir my net die begin en ek wil my rugbyloopbaan verder neem,” verduidelik hy.

Hy droom daarvan om ná skool professionele vlak te bereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article