Weslander

Dís ‘n stink storie! Langebaners betaal dubbeld vir riooldienste

Die ingang na die Oystercatcher-ontwikkeling in Langebaan. Foto: Alida Buckle
Die ingang na die Oystercatcher-ontwikkeling in Langebaan. Foto: Alida Buckle
Weslander

Dís ‘n stink storie! Langebaners betaal dubbeld vir riooldienste


LANGEBAAN – Terwyl inwoners van die Oystercatcher- en die Plover-ontwikkelings maandeliks hul munisipale heffing vir rioolverwydering betaal, moet hulle bykomend derduisende rande uit die sak haal om ‘n kontrakteur te betaal om hul riool uit te pomp.

Die krisis, wat reeds sedert 2023 voortsleep, het nou ‘n kritieke punt bereik waar inwoners van dié ontwikkelings agter die Curro-privaatskool self al R150 000 betaal het vir die uitpomp van riool, terwyl die rioolpompstasie steeds nie aan Eskom se kragnetwerk gekoppel is nie.

Eddie Morrison, voorsitter van die trustees en landgoedbestuurder, het in ‘n onderhoud met Weslander gesê die inwoners dra self by om ‘n private kontrakteur sowat R2 600 per uur te betaal om die riool omtrent drie keer per week te kom uitpomp. “Ons betaal sedert 2023 ‘n basiese rioolheffing aan die Saldanhabaai-munisipaliteit van R260 per maand, maar ons kry geen rioleringsdiens nie.”
Morrison waarsku dat as die situasie nie opgelos word nie, hulle moontlik inwoners se maandelikse

eiendomsheffing tot R900 sal moet verhoog. “Ons word reeds verarm,” het hy gesê.

Goedkeurings sonder inspeksies

Die wortel van die probleem lê by goedkeurings wat blykbaar sonder behoorlike inspeksies gegee is.

“Die ontwikkeling is afgeteken sonder dat die SBM ‘n inspeksie gehou het om te verseker dat die riooldienste in plek is,” het Morrison verduidelik. Die groen lig is hierna aan die oorspronklike ontwikkelaar, Prime Growth Properties, gegee.

Die riool loop gereeld by die opgaardam langs 'n private skool se sportterrein oor. Foto: Eddie Morrison
Die riool loop gereeld by die opgaardam langs ‘n private skool se sportterrein oor. Foto: Eddie Morrison

Prime Growth het volgens Morrison allerhande beloftes gemaak wat nooit gematerialiseer het nie. Die kernprobleem is dat die rioolpomp se elektriese verbinding nooit gefinaliseer is nie, ten spyte van herhaalde beloftes sedert 2024. Daar is bewerings dat Prime Growth nie die elektriese kontrakteur se rekening van ongeveer R80 000 betaal het sodat die pomp aan die elektriese netwerk gekoppel kon word nie.

Gerhard Erasmus van Prime Growth Properties het in reaksie gesê dat hulle via hul elektriese ingenieur, Triocom, op 27 Julie 2022 by Eskom aansoek gedoen het om die konneksie. Eskom het die aansluiting goedgekeur en hulle het ‘n kontrakteur aangestel om die kabel te lê. “Ons het die nodige fooi van R43 000 daarvoor betaal. Hulle het die punt, sonder iemand se medewete, verkeerdelik geïnstalleer.

Prime Growth het vir 18 maande vir die konneksie betaal met die verstandhouding dat dit funksioneer,” het Erasmus gesê.

Hy het verduidelik dat Prime Growth intussen albei eiendomme, Plover én Oystercatcher, aan ander ontwikkelaars verkoop het. Oystercatcher se erf is gekoop deur Kingpaul Investments, wat dit in 53 plot-en-plan-eenhede opgedeel en verkoop het. Plover se erf 10917 is gekoop deur Plover Property Development en in 35 plot-en-plan-eenhede opgedeel en verkoop. Al die eenhede is reeds oorgedra. “Kingpaul het self by die munisipaliteit aansoek gedoen om okkupasiesertifikate. Dit het niks met ons te doen gehad nie, dit is tussen hulle en die munisipaliteit,” het Erasmus gesê.

Hy het bevestig dat hy op Maandag 25 Mei weer ‘n skrywe aan Eskom oor die kwessie gerig het.

Finansiële en gesondheidsrisiko’s

Sedert die private kontrakteur in Maart vanjaar opgehou het om die riool gratis uit te pomp, het die finansiële las op inwoners geval. Deel van hul bekommernis is dat die rioolpompstasie reg langs die private skool se sportvelde geleë is. “As die riool in hierdie opgaardam inloop, gaan dit in die grondwater beland,” het Morrison gewaarsku. Die skool het aan Weslander benadruk dat hulle nie grondwater gebruik om sy sportterrein te besproei nie, maar munisipale water.

Van Maart tot Mei vanjaar het inwoners reeds meer as R120 000 betaal vir die uitpompwerk, en Morrison voorsien dat dit teen die einde van Mei tot R177 000 kan styg. “Ek belowe vir jou, ek het slapelose nagte oor hierdie ding,” het ‘n gefrustreerde Morrison gesê.

Morrison beskryf vergaderings met die SBM as vrugteloos. “Die munisipaliteit wil nie kopgee nie, want hulle wil nie verantwoordelikheid neem nie, al is dit hulle wat die ontwikkeling afgeteken het,” het hy gesê. Daar is volgens Morrison al verskeie kere met SBM vergader. SBM het glo by die onlangse vergadering op Maandag 4 Mei geweier om die meer as R120 000 wat inwoners reeds vir die uitpomp van die riool betaal het, terug te betaal.

Die munisipale amptenare het glo volgens Morrison voorgestel dat die moedelose inwoners met regsaksie voortgaan.

Met die rondgooi van blaam berei die inwoners van die Oystercatcher- en Plover-ontwikkelings hulle voor vir die ergste. Twaalf inwoners het formele klagtes by SBM ingedien en regsaksie teen beide die ontwikkelaar en die munisipaliteit word oorweeg.

Die rioolkrisis is nie die enigste probleem nie. Inwoners kla ook oor onvoltooide buitemure en ‘n elektriese heining wat nie volgens standaardvereistes opgerig is nie, ten spyte van ‘n gesertifiseerde “nakomingsbrief”.

SBM skuif verantwoordelikheid af

In reaksie op ‘n navraag het Ethne Lawrence, kommunikasiebeampte by die SBM, gesê die munisipaliteit neem kennis van die media-navraag rakende die rioolpompstasie wat gebou is as deel van die private residensiële ontwikkeling in die Langebaan-omgewing. “Hierdie infrastruktuur het deel gevorm van ‘n privaat bestuurde ontwikkeling waarvoor die ontwikkelaar sy eie professionele span aangestel het, insluitend die konsulterende ingenieurs en kontrakteur verantwoordelik vir die ontwerp, konstruksie en implementering van die werke,” het Lawrence gesê.

“Die munisipaliteit se rol was beperk tot sy regulerende en toesigfunksies van toepassing op private ontwikkelings. Die ontwikkelaar en sy aangestelde professionele personeel was verantwoordelik vir die uitvoering en voltooiing van die infrastruktuur, insluitend reëlings met betrekking tot die elektriese voorsiening en Eskom-verbinding na die pompstasie.”

Lawrence het gesê gedetailleerde tegniese vrae en vrae oor implementering moet eerder aan die private ontwikkelaar en sy aangestelde professionele span gerig word.

Ten spyte van die munisipaliteit se standpunt dat dit ‘n private ontwikkeling is, bly die vraag waarom inwoners sedert 2023 elke maand ‘n rioolheffing betaal vir ‘n diens wat hulle glad nie ontvang nie. SBM het nie geantwoord op die vraag of die meer as R120 000 wat inwoners reeds vir die uitpomp van die riool betaal het, óf die heffingsfooie, aan hulle terugbetaal gaan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article