Vir ’n 14-jarige meisie en haar 10-jarige broer het die pad terug na hul ouers nie maklik gekom nie.
Dié sibbes het enkele jare gelede onder die aandag van CMR Derdepoort in Pretoria gekom nadat kommer oor hul welstand uitgespreek is. Hulle het destyds by hul ouma en stiefoupa gewoon, terwyl hul ma vir ’n psigiatriese toestand behandel word en hul pa lang ure gewerk het.
Die kinders is later in alternatiewe sorg geplaas terwyl hul omstandighede ondersoek is.
Ronel Aylward, hoof van CMR Noord, sê die ondersoek het gewys al was daar druk op die gesinsverhoudings, wou die kinders graag weer ’n verhouding met hul ouers bou.
’n Lang proses van gesinshereniging het gevolg.
Die kinders het terapeutiese ondersteuning ontvang, terwyl hul ma en pa ouerbegeleiding, asook berading gekry het. Met behandeling en ondersteuning het die ma se toestand geleidelik gestabiliseer.

Sy het intussen ook by vaardigheids- en werkskeppingsprojekte betrokke geraak en haar talent vir mosaïekwerk ontwikkel.
Stelselmatig het die verhouding tussen die ouers en kinders verbeter. Deur volgehoue ondersteuning en terapie kon van die emosionele seer uit die verlede verwerk word.
Uiteindelik kon die kinders na hul ouers terugkeer.
“Hierdie verhaal is net ’n kort opsomming van die ingrypingsproses,” sê Aylward. “Die pad wat maatskaplike werkers saam met ouers, kinders en versorgers stap, is dikwels uitdagend, maar ons gee nooit op nie.”
Volgens Adrie van Staden, uitvoerende hoof van Die Kinderfonds, wys die verhaal waarom ondersteuning aan maatskaplike dienste so belangrik is.
“Daar is groot nood, maar altyd hoop. Jou bydrae, hoe gering ook al, maak ’n verskil in ’n kind se lewe,” sê sy.
Die Kinderfonds se huidige geldinsamelingsveldtog bied ook aan skenkers die kans om aan ’n kompetisie deel te neem. Die veldtog word vanjaar deur RSG, Die Papier en Toyota SA moontlik gemaak.
Wanneer jy skenk, is jy outomaties ingeskryf vir Die Kinderfonds se kompetisie. Die wenner sal kan kies tussen R200 000 of ’n Toyota Vitz.
Die kompetisie duur tot 7 November. Lesers wat maandeliks bydra, kan ook R20 000 wen. Volledige inligting is by diekinderfonds.co.za
Die Kinderfonds, Absa-rekeningnommer 2840157329, gebruik jou selfoonnommer as verwysing.
Kaartbetalings: Gebruik die QR-kode.
