Vervalde vuurwapenlisensie wis nie eienaarskap uit nie, beslis hof

Geweer.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Vuurwapens met vervalde lisensies mag nou by ’n ge­lisensieerde handelaar gestoor, verkoop of oorgedra word.

Die National Hunting and Shooting Association (Natshoot) en die South African Arms and Ammunition Dealers Associa­tion het die hooggeregshof in Pretoria genader oor die polisie se riglyne, praktyke en rekenaarstelsels.

Dié riglyne, praktyke en rekenaarstelsels het handelaars verhinder om vuurwapens met vervalde lisensies te ontvang, aan te teken, te bewaar, of in hul voorraad op te neem.

Die hof het beperkings wat bloot op die vorige eienaar se vervalde lisensie of afsterwe berus, “ongrondwetlik, onwettig en ongeldig” verklaar en verder gelas die polisie se administra­tiewe reëls en stelsels kan nie ’n verbod skep waarvoor die wet nie voorsie­ning maak nie.

“Die verval van die lisensie vernietig nie vanself die persoon se eienaarskap nie. Die persoon verloor dus nie noodwendig die waarde van die vuurwapen nie,” sê Wian Spies, ’n prokureur by Hurter Spies Ingelyf in Pretoria.

’n Oorledene se vuurwapen bly nou ook ’n bate van die boedel. ’n Behoorlik gelisensieerde handelaar mag sulke vuurwa­pens van die eienaar of ’n behoorlik aangestelde eksekuteur vir doel­eindes wat die Wet op die Beheer van Vuurwapens toelaat, ontvang.

Die nuwe ­eienaar sal steeds om ’n lisensie moet aansoek doen voordat hy of sy die vuurwapen in besit mag neem.

Die uitspraak beteken egter nie dat iemand “ ’n ­vuurwapen mag aanhou gebruik of besit nadat sy lisensie verval het nie,” waarsku Spies, en verduidelik daar is ’n verskil tussen eienaarskap en wettige gebruik.

Die uitspraak is volgens hom veral belangrik vir eksekuteurs en erfgename.

“By afsterwe ver­dwyn die oorledene se eiendom nie.

“Die bates vorm deel van die bestorwe boedel en word deur die eksekuteur geadmini­streer.”

Die proses was tot nou toe dikwels ’n nagmerrie.

Indien ’n handelaar nie die vuur­wapen kon ontvang nie, kon die eksekuteur dit nie maklik verkoop of veilig binne die gereguleerde handelaar­stelsel laat bewaar nie.

Dit kon ook ’n erfgenaam se toekomstige lisensieaansoek bemoeilik en die afhandeling van die boedel vertraag.

Die hof het die polisie 90 dae gegee om teenstrydige riglyne te wysig of terug te trek, sy administratiewe en elektroniese stelsels aan te pas en die uitspraak aan vuurwapenbeamptes, provinsiale Firearms, Liquor and Second-Hand Goods Services-­kantore (Flash) en die Sentrale Vuurwapenregister te kommunikeer.

Volgens Spies stel die 90-dae-tydperk egter nie die werking van die uitspraak vir 90 dae uit nie.

“Die verklarende bevel het reeds by uitreiking . . . in wer­king getree, tensy die uitspraak deur ’n geldige appèlproses opgeskort of deur ’n hoër hof verander word,” sê Spies.

Hy waarsku dat praktiese probleme intussen kan ont­staan indien ’n plaaslike vuurwapenbeampte of polisiestelsel nog nie aangepas is nie. Dit veran­der egter nie die regs­posisie nie.

Spies raai ’n eksekuteur wat weggewys word, aan om ’n afskrif van die hofbevel saam te neem, alle pogings en weierings skriftelik te dokumenteer en die saak na die provin­siale Flash-kantoor, asook die Sentrale Vuurwapen­register te eskaleer.

Die vuurwapen moenie informeel aan ’n erfgenaam oorhandig word nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos