Hier is die hoofnuus wat vandag, 9 Oktober, gebeur het. Dié artikel bevat die belangrikste nuus wat plaaslik, in die sportwêreld en oorsee plaasgevind het.
Plaaslik
- Teenstrydige mediaberigte vanoggend dui daarop dat oudpresident Jacob Zuma moontlik steeds in die hospitaal is, ondanks die MK-party se versekering dat hy bloot ’n roetine-mediese ondersoek ondergaan het en gesond is.
- Die Gautengse voorsitter van die Inkatha Freedom Party (IFP), Bonginkosi Dhlamini, sê Suid-Afrika se huidige immigrasieprobleme kon vroeër aangespreek gewees het as die regering destyds die party se voorstelle oor migrasiewetgewing gesteun het.
- Die MK-party het reeds ’n strafregtelike klag van crimen injuria teen Helen Zille, die DA se Johannesburgse burgemeesterskandidaat, ingedien. Die saak hou verband met ’n beweerde uitbarsting tydens ’n politieke debat wat op 31 Augustus in Orlando-Oos, Soweto, opgeneem is.
- Die voormalige adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, het vandag weer in die Germiston-landdroshof in verband met die beweerde onwettige installering van blou ligte op voertuie wat met sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala verbind word verskyn.

- Die departement van binnelandse sake het ’n riglyn oor die verwerking van asielaansoeke teruggetrek nadat vlugtelingontvangskantore oorweldig is en betogings in Soweto en Durban gewelddadig geraak het.
- Pres. Cyril Ramaphosa het vandag in Phuthaditjhaba in die Vrystaat die bekendstelling van ’n beplande R100 miljard-beleggingsprojek wat na verwagting sowat 6 500 permanente werkgeleenthede sal skep en op motorvoertuigmontering, elektriese mobiliteit, energie en vervaardiging sal fokus, geloods.
- Daar was verskeie protesaksies vandag in die Johannesburgse middestad verwag, met die Konstitusionele Hof as eindbestemming.
- Panyaza Lesufi, Gautengse Premier sê dat die staat sal virseker dat die Department van Binnelandse Sake se ontrekking van die asielsoeker aankondiging behoorlik gekommunikeer word aan die publiek.
- Die verwydering van Andile Lungina se naam as kandidaat vir die Nelson Mandela Baai metro (ANC) is as ongrondwetlik, onwettig, ongeregtig geklassifiseer.
- Lede van Vision Tactical moes by Constitution Hill in Johannesburg ingryp nadat motors aan die brand gesteek is.
- The Citizen berig dat bronne na aan die MK-party beweer oudpresident Jacob Zuma se gesondheidstoestand is “baie kritiek”, hoewel die party vroeër volgehou het dat hy gesond is en in ’n goeie gemoedstoestand verkeer.
- Die Suid-Afrikaans gebore regsgeleerde en menseregtekenner Navi Pillay is met die 2026-Nobel-vredesprys bekroon vir haar dekades lange werk om internasionale reg en geregtigheid te bevorder.
- Die N4 by Elandsvallei is weens ’n ongeluk waarby ’n trok betrokke is, gesluit. Motoriste word aangeraai om die roete deur Schoemanskloof of alternatiewe roetes te gebruik.
- Vusimusi “Cat” Matlala, Julius Mkhwanazi en Chris Steyn het vandag weer in die Germiston-landdroshof verskyn in verband met die beweerde onwettige aanbring van blouligte op private veiligheidsvoertuie. Die drie staan tereg op aanklagte wat korrupsie, bedrog en dwarsboming van die gereg insluit.

- ’n Gewapende rooftog by Cash Crusaders in Phoenix Plaza, KwaZulu-Natal was aangemeld.
- Skote is afgevuur naby Kloof- en Ecksteinstraat in Johannesburg.
- Die departement van binnelandse sake het ’n omstrede beleidsaanwysing oor asielaansoeke amptelik teruggetrek ná ernstige geweld in Soweto en Durban. Dié stappe volg ná ’n uitspraak van die konstitusionele hof.
- Die NVG het lewenslange vonnisse verwelkom wat die Madadeni-streekhof opgelê het aan twee mans wat ’n vrou in Julie 2016 verkrag het. Albei die veroordeeldes het die slagoffer geken.
- Regterkandidaat vir die Gautengse hooggeregshof, adv. Sekgame Shadrack Tebeile, onttrek midde-onderhoud nadat hy vasgevra is oor ’n uitstaande WesBank-motorlening en ’n verstekvonnis teen sy naam.
- ’n Grootskaalse vragmotor-smokkelpoging is op die N3 by Heidelberg gefnuik nadat ’n gekaapte 10-ton-vragmotor op pad na ’n buurland voorgekeer is. Drie verdagtes is deur ’n multidissiplinêre taktiese span in hegtenis geneem nadat die voertuig met valse nommerplate en ’n buitelandse begeleidingsvoertuig vasgetrek is.
- Weens die eskalasie van geweld, waarby besighede geplunder en voertuie in Soweto en Durban vernietig is, is sekuriteitsmagte insluitend die weermag ontplooi om openbare orde af te dwing..
- ’n Noordwes-man is 12 jaar tronk toe gestuur vir ’n 2015-moord. Abram Mokole (40) het sy broer gevra om T-hemde te ruil en met ’n bebloede Okapi-mes gespog ná die aanval, maar getuies het hom ná 11 jaar uiteindelik agter tralies laat beland.
Oorsee
- Suid-Korea versnel sy planne om teen 2030 ’n ruimtetuig op die maan te laat land. Intussen ontwikkel navorsers tegnologie vir ’n maanrover wat die maan se uiterste temperature, stof en vakuumtoestande moet kan trotseer.
- ’n Man is in die Bronx, New York, deur ’n agent van die Amerikaanse immigrasie- en doeanehandhawingsagentskap (ICE) geskiet tydens ’n arrestasieoperasie; hy is hospitaal toe geneem met beserings wat volgens die polisie nie lewensgevaarlik is nie.
- Die Amerikaanse weermag beplan om die teregstelling van Nidal Hasan, ’n voormalige majoor wat in 2009 13 soldate by die Fort Hood-weermagbasis doodgeskiet het, op 3 Desember regstreeks uit te saai wanneer hy deur ’n vuurpeleton tereggestel word, het die Amerikaanse minister van verdediging, Pete Hegseth, bevestig.
- Die sportdragreus Adidas dagvaar die Australiese modekleinhandelaar White Fox Boutique oor klere met vier strepe wat volgens Adidas sy handelsmerk se kenmerkende driestreep-ontwerp skend en verbruikers kan mislei.

- Leerders in Frankryk was vandag grotendeels terug in die klaskamers ná dae van betogings waarin hulle beter onderwys geëis het. Die Verenigde Nasies het intussen sy kommer uitgespreek oor die botsings wat soms gewelddadig geraak het.
- Top-handelsbeamptes van China en die EU het ná intensiewe samesprekings in Beijing ingestem om dialoog oor uitvoerbeheer te verskerp. As deel van die ooreenkoms het China onderneem om die uitvoerlisensies vir skaars aardmetale en permanente magnete na die EU te bespoedig.
- Skotland se nasionale polisiemag bevind hom in die middel van ’n skandaal nadat bekendgemaak is dat 45 polisie-beamptes tans geskors is weens bewerings van geweld teen vroue en meisies.
- Die voormalige Britse prins Andrew Mountbatten-Windsor is £302 000 (ongeveer R7 miljoen) aan vergoeding toegestaan nadat hy die huurkontrak van sy luukse Royal Lodge-pragwoning in Windsor oorgegee het.
- Britse owerhede het bevestig dat nog ’n skip naby die strategiese Straat van Hormoes aangeval en aan die brand gesteek is.
- Verligting vir Kenia ná Wajir se Ebola-verdagte negatief toets en met malaria gediagnoseer word.
- EU-handelskommissaris bestempel Beijing-samesprekings as ’n “deurslaggewende eerste stap” om die ongelyke handelsbalans met China reg te ruk.
