Van kletsbotte tot kunsskepping: SA Akademie plaas KI onder die loep

Kunsmatige intelligensie.
Ter illustrasie: Kindel Media/pexels.com

Van kletsbotte wat help om Afrikaanse werkwoorde aan te leer tot gefabriseerde regspraak en kunsmatig geskepte beelde: die invloed van kunsmatige intelligensie (KI) kom op 1 en 2 Oktober 2026 in Pretoria onder die vergrootglas wanneer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) sy jaarlikse Algemene Simposium aanbied.

Kundiges uit verskeie vakgebiede sal die moontlikhede en uitdagings van KI van naderby beskou met aanbiedings oor taal, natuurwetenskappe, die kunste, regte, onderwys, geskiedenis en letterkunde. 

Bywoning is gratis en belangstellendes kan in persoon of aanlyn deelneem.

Meer oor die program

Die program, wat hier beskikbaar is, plaas praktiese toepassings én vrae oor verantwoordelikheid, betroubaarheid en menslike oordeel op die agenda. 

Hoe kan KI navorsing en onderrig ondersteun? Wat gebeur wanneer dit onjuiste inligting lewer? En hoe verander dit die manier waarop mense kennis ontwikkel en kreatief werk?

Taal

Die taalsessie op Donderdag 1 Oktober begin met DJ Cloete van die Departement Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia se bespreking van taal en kritiese denke aan die hand van akademiese skryfwerk.

Leigh-Ann Luwes en dr. Joanine Nel, albei verbonde aan die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, ondersoek kletsbotte en die aanleer van Afrikaanse werkwoorde. 

Prof. Tobie van Dyk van die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) en die Noordwes-Universiteit bespreek mens-KI-vennootskappe in institusionele taalbeplanning.

Ter illustrasie: igovar igovar/pexels.com
Ter illustrasie: igovar igovar/pexels.com

Verantwoordbaarheid, vertroue en naïwiteit

In die natuurwetenskappe-afdeling fokus prof. Eduan Kotzé van die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika aan die Universiteit van die Vrystaat op KI as navorsingsvennoot. Produktiwiteit, hallusinasies en verantwoordelike gebruik in Suid-Afrika staan sentraal in sy aanbieding.

Hendrik van Huyssteen van Wolkplatform-ingenieurswese by Entersekt in Stellenbosch, ondersoek hoe KI as ’n nuwe werknemer ingespan, opgelei en verantwoordbaar gehou kan word. 

Prof. Basie von Solms van die Sentrum vir Kubersekerheid aan die Universiteit van Johannesburg hanteer die vraag oor hoe gebruikers minder naïef en meer krities met KI kan omgaan.

Prof. Marina Joubert van die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET) aan die US bespreek hoe vertroue in wetenskap in ’n era van KI gebou kan word.

KI.
Foto ter illustrasie: Adobe Stock.

Die kreatiewe aspek

Die visuele kunste-afdeling ondersoek onder meer kreatiwiteit en outeurskap. Prof. Elfriede Dreyer, van die Departement Kuns en Musiek aan UNISA, bied “KI. Kunsmatige. Kuns. Utopie” aan. 

Héniel Fourie van Grafiese ontwerp aan die NWU bespreek agentskap in algoritmiese kreatiewe praktyk.

Louiza Boshoff van die Departement Beeldende Kunste en Departement Kunsgeskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat ondersoek fiksie en die verbeelding, met KI as beeldvormingstegniek. 

Richardt Strydom van die AIE School of Art and Design bespreek KI-beeldskepping.

Musiek kom ook aan die beurt wanneer dr. Altus Hendriks van die Skool vir die Kunste aan die Universiteit van Pretoria ondersoek hoe KI leer om te luister. Sy aanbieding verbind musikale verwagting en persepsie met kreatiewe praktyk.

‘Spookgesag’ en die reg

Die regsprogram vestig die aandag op gefabriseerde inligting. Prof. Michele van Eck, van die Skool vir Regte aan Wits, bespreek “spookgesag” en Suid-Afrikaanse howe se ontwikkelende reaksie op generatiewe KI. 

Adv. Jean Meiring van die Johannesburgse balie ondersoek die kwessie van regsuitsprake wat saam hallusineer.

Prof. Willem Gravett van die Departement Publiek- en Prosesreg by Akademia belig die onderskeid tussen opleiding en opvoeding.

Onderwys en geloof

Op Vrydag 2 Oktober verskuif die aandag na onder meer onderwys. Monique Alberts, van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, reflekteer oor die ontwikkeling van ’n kortkursus in digitale media en KI.

Prof. Ignatius Gous, emeritus professor in Ou Testamentiese Studies aan UNISA en HUB en stigter van FutureSharp NPC, se kritiese beskouing van KI bevraagteken die kwessie of KI nie dalk vir kwaadwillige inseminasie staan nie. 

Carmin Smith van Aros ondersoek vanuit ’n Christelik-reformatoriese perspektief of generatiewe KI onderrig bemagtig of beheers.

Waar kom KI vandaan?

Prof. Hanlie Smuts van die Departement Informatika en voorsitter van die Skool vir Inligtingstegnologie aan die Universiteit van Pretoria bespreek die geskiedenis van KI. 

Prof. Gerald Groenewald van die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg belig die Globalise-projek en KI se rol in VOC-geskiedskrywing.

Internasionale perspektiewe kom van proff. Jacques du Plessis en Shana Ponelis, albei van die Skool vir Inligtingkunde aan Universiteit van Wisconsin-Milwaukee in die VSA. Hul aanbiedings handel onderskeidelik oor KI as denksprong en die invloed daarvan op professionele kundigheid.

Paneelgesprek

Die program sluit ’n paneelgesprek oor KI en die toekoms van die Suid-Afrikaanse universiteit in, met proff. Anné Verhoef en Thys Human en dr. Janien Linde, almal verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Donderdag se amptelike openingsplegtigheid begin om 19:00. Dit sluit prof. Ilse Feinauer se uittree-rede as voorsitter van SAAWK se Akademieraad in. 

Daarna praat Vicus Bürger, van Media24, oor “KI: ’n waterskeidingsoomblik vir die mensdom”, met aandag aan die ekonomie, arbeidsmark en die manier waarop mense dink en kommunikeer.

Wanneer en waar?

Die simposium vind by Ziervogelstraat 574, Arcadia, plaas. Veilige parkering is beskikbaar. Donderdag begin registrasie om 09:30 en die dagprogram om 10:00. Vrydag begin registrasie om 08:00; die program duur van 08:30 tot 13:15.

Bespreek teen 28 September 2026 by melanie@akademie.co.za. Dui die bywoningsdae aan, of deelname in persoon of aanlyn sal wees, en of die openingsplegtigheid bygewoon sal word. 

  • Aanlyn skakels is op versoek beskikbaar, met ’n afsonderlike skakel vir die openingsplegtigheid.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos