Vyf mense, onder wie drie toeriste, word Vrydag vermis ná ’n ontploffing in ’n gebou in die historiese Plaka-distrik in Athene, het die Griekse brandweer gesê.
Die ontploffing vroegoggend in ’n klein straatjie naby die Akropolis het die gebied, wat gewoonlik besig is met honderde buitelandse besoekers, geskud.
Die brandweer het gesê hulle soek na twee bejaarde mense wat op die boonste verdieping van die gebou gewoon het, asook drie toeriste wat vermoedelik die woonstel op die onderste verdieping gehuur het.
“’n Soek-en-reddingsoperasie met ’n hond is aan die gang om enigiemand te vind wat moontlik vasgekeer is,” het ’n woordvoerder van die brandweer aan AFP gesê.
“Ons het verneem dat ’n bejaarde egpaar en drie ander mense wat in ’n vakansiewoonstel gebly het, in die gebou gewoon het, en ons probeer vasstel of hulle ten tyde van die ontploffing daar was,” het sy bygevoeg.
Die ontploffing, wat op hierdie stadium aan ’n gaslek toegeskryf word, het die tweeverdiepinggebou verwoes en ook naburige huise beskadig.
Dit het vensters van omliggende geboue gebreek en motors wat naby geparkeer was, beskadig.
Ná etlike ure Vrydag was daar steeds geen teken van die vermiste mense in die puin gevind nie.
Twee vroue in ’n naburige gebou is met geringe beserings in die hospitaal opgeneem, het die staatsuitsaaier ERT berig.
’n Derde persoon wat daar verbygeloop het, is ook lig beseer, het die uitsaaier gesê.
