Stormers teen Sharks: Dís Die Papier se speler van die wedstryd

Stormers-stut Ntuthuko Mchunu.
Stormers-stut Ntuthuko Mchunu. Foto: Facebook.

Die stut Ntuthuko Mchunu het nié ’n goeie wedstryd gehad toe hy vroeër vanjaar vir die Springbokke teen Skotland uitgedraf het nie. Hy is talle kere deur ’n brawe Skotse aanvalspatroon in die Bokke se verdedingslinie uitgevang.

Dus is dit heerlik om te sien watter inpak hy vir die Stormers gemaak het voordat hy in die 50ste minuut in hul 39-22-sege tenoor die Sharks vervang is.

Natuurlik was die Stormers-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu die amptelike speler van die wedstryd, maar Mchunu se briljante spel kan doodeenvoudig nie misgekyk word nie.

Beide Seabelo Senatla en Hacjivah Dayimani se drieë het vanuit rolmaal-bewegings gespruit waarby Mchunu betrokke was. Dit is veral met Dayimani se drie waar ’n mens duidelik kan sien hoe betrokke Mchunu in die sukses van die rolmaal is.

So ook vir die Stormers se derde drie deur André-Hugo Venter net voor halftyd wat ook deur ’n rolmaal gedruk is.

In die aanloop tot Stormers-vleuel Leolin Zas se drie het Mchunu ook ’n sterk stormlopie gehad.

Maar waar Mchunu werklik die kollig gesteel het, is by die skrums. Die Sharks het gesukkel om momentum te kry en het telkemale ’n strafskop afgestaan. Springbok-stut Thomas du Toit was tot vroeër vanjaar nog een van Bath Rugby se beste spelers voordat hy vir hierdie seisoen by die Sharks aangesluit het.

Du Toit sal dalk oor van die beslissings teen hom wil stry, maar dit sal nie die feit verander dat Mchunu meestal die oorhand teenoor hom in die skrums gehad het nie.

Die Stormers se oorwinning was gebou op die harde werk van die voorspelers en Mchunu het voor in die koor gewoel.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos