Stormers teen Scarlets: Dís Die Papier se speler van die wedstryd

Yaqeen Ahmed van Suid-Afrika druk ’n drie teen Australië.
Yaqeen Ahmed van Suid-Afrika druk ’n drie teen Australië. Foto: Richard Huggard/Gallo Images.

Sou die Scarlets dié wedstryd gewen het, sou ons speler van die wedstryd oud-Bok Albert van den Berg gewees het. Van den Berg is tans die voorspelerafrigter vir die Scarlets en om 33-14 agter te wees met halftyd, maar so amper te wen, wil gedoen wees.

Die amptelike speler van die wedstryd in die Stormers se 52-40-sege is skrumskakel Haashim Pead.

Lions-ondersteuners is knorrig dat dié nuweling nie meer speelkans gekry het voordat hy vir hierdie seisoen by die Stormers aangesluit het nie.

Sou hy nie dié toekenning amptelik gekry het nie, sou hy ook ons speler van die wedstryd gewees het.

Ons kies egter Yaqeen Ahmed vir dié eer. Die realiteit is dat losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu se spelpeil ná sy besering vroeër vanjaar en sy paar wedstryde as kaptein dikwels veel te wense laat.

Toe Ahmed vroeg in die tweede helfte ingestuur is, het hy ’n baie volwasse vertoning gelewer wat natuurlik twee drieë ingesluit het.

Feinberg-Mngomezulu is ongetwyfeld een van die beste spelers in die wêreld . . . mits hy sy vorm kan terugkry.

Ons raad aan die Stormers-breier John Dobson is om Ahmed op 10 te begin, en Feinberg-Mngomezulu in die laaste 30 minute te laat opdraf. Dis hier waar hy saam met sy span sy voete behoorlik in die wedstryd sal vind.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos