Smaak verskil; dankie, ‘Papier’

Die Papier – 24 April 2026.

Smaak verskil, lui die spreekwoord. Tereg ook. Veral as dit by nuus kom.

Verlede week sien ek dat ’n berig en foto van Rassie en Siya vir ’n ruk die gewildste op ’n nuusplatform was. Dis nadat hulle hul koppe kaal laat skeer het in die nadraai van die reeksoorwinning oor die All Blacks.

Op ’n ander platform het berigte oor die volgende week se sepie-storielyn al my aandag getrek. Ja, die mense is mal daaroor, antwoord iemand wat weet toe ek terloops navraag doen. Mense wil regtig weet wat in volgende episodes gaan gebeur. Kan jy dit glo?

Dat enige van dié twee voorbeelde as “nuus” be­skou kan word, is twyfelagtig. Maar nuus mag tog ook ligter, selfs vermaaklik wees? Inderdaad. Waar om die balans te vind, is die vraag.

Die Papier verdien ’n voorlopige verslag. Waar pas die blad in? Elke leser sal ’n eie antwoord kan verskaf. Maar as jy my sal vra, is Die Papier ’n middelmootkoerant; ’n Goue Lokkies-koe­rant – nie te swaar nie; nie te lig nie. Sommige sal meer van die Dink-artikels verkies; ander is dankbaar vir die rugby-stories – selfs op die voorblad! Want die blad moet verkoop om te oorleef. En Vrydae dink baie al aan biltong en Saterdag se rugby.

Wat is ’n middelmootkoerant? Ek onderskei dit van ’n uit-en-uit ­populistiese koerant (vol seks, drama, onbenullighede en die bisarre) en ’n ernstige koerant (wat al die bogenoemde vermy en op die intellektuele fokus – selfs wanneer oor sport en vermaak geskryf word).

Gegewe ons demografiese, sosiale en ekonomiese realiteite is die keuse iewers in die middel te verstane. Ek meen Die Papier plaas homself in die middel – dalk aan die ernstige kant van die middel. Dit is ’n goeie plek om te wees. ’n Verskei­denheid, ja, maar gaan soek die seks en skandes elders. Hoe groot is hierdie ordentlike maar nie al te intellektuele mark? Dit bly maar ’n moeilike vraag. Ons weet waar Insig met al sy goeie be­doelings beland het.

Ons weet ook hoe alle publikasies mooi moet trap. Gedrukte media leef wêreldwyd onder die druk van aanlyn media – ook aanlyn rommel. Die oorheersende tegnologiemaatskappye het geen voorkeur vir goeie inhoud nie; hulle tel net klieks. Dis waarheen die advertensies stroom, tot nadeel van die publikasies (ook aanlyn media) wat met moeite en teen ’n koste ­goeie, tersaaklike inhoud met integriteit genereer.

Wanneer foefies en ligte vermaak die nuusarena binnedring, kan dit sommige van ons die kop laat skud. Daarom moet ek hier ’n woord van dank teenoor Die Papier en sy redak­sie uitspreek.

Sover vermy julle die versoe­kings wat oor jul pad kom om meer populisties te wees en meer te verkoop. Dis juis jul ernstiger middelmoot-karakter wat vele lesers waardeer – as julle my dié onge­vraagde rapport sal vergewe.

  • Froneman is ’n emeritus-professor in joernalistiek.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos