Sharks teen Cardiff: Dís Die Papier se speler van die wedstryd

Sharks-senter Jurenzo Julius.
Sharks-senter Jurenzo Julius. Foto: Facebook/SharksRugby.

In ’n span waar Edwill van der Merwe, Ethan Hooker en meer onlangs Zekhethelo Siyaya gereeld hul stempel afdruk, is dit maklik om ’n speler soos Jurenzo Julius mis te kyk.

Maar dit sal ’n fout wees. Waar die Sharks gewoonlik vir hul kaptein André Esterhuizen as die stormram gebruik, is dit die kleiner Boogeyman wat die gapings moet benut óf die bal vinnig en akkuraat by sy vleuels moet uitkry.

Dít het Julius puik gedoen om seker te maak sy span behou momentum, met baie min balbesit of grondgebied wat in hul guns tel.

Maar moet ook nie sy eie stormlopies vlak kyk nie. In Esterhuizen se afwesigheid het hy hom heel skaflik van dié taak ook gekwyt en moes meer as een Cardiff-speler dikwels inspring om hom grond toe te trek.

Julius het egter net die eerste helfte gespeel, maar bly ’n speler om hierdie seisoen dop te hou . . . en een wat moontlik in die toekoms nog die groen en goud oor sy kop sal trek.

Siyaya is weer as die speler van die wedstryd aangewys en dit is nog ’n speler wat ’n lang loopbaan as Springbokke gaan hê.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos