Reeksmoordenaar? 10de vroueliggaam oos van Johannesburg gevind

Foto: X/@EversonLuhanga
Foto: X/@EversonLuhanga

Die Suid-Afrikaanse polisie het Saterdag nog ’n liggaam in Ekurhuleni, oos van Johannesburg, gevind, wat die aantal vroue wat die afgelope twee maande dood in die munisipaliteit gevind is, op 10 te staan bring.

Die ontdekking het kommer oor geweld teen vroue in ’n land wat reeds lank deur geweldsmisdaad geteister word, verder laat toeneem. Die polisie probeer intussen vasstel of die moorde met mekaar verband hou.

Intussen het die Gautengse polisiekommissaris, lt.-genl. Tommy Mthombeni gesê die moontlikheid van ’n reeksmoordenaar kan nie uitgeskakel word nie.

Die liggaam is in die Tembisa-township gevind, het die polisie gesê sonder om verdere besonderhede bekend te maak.

“In hierdie stadium kan ons slegs die ontdekking van die liggaam bevestig. Misdaadtoneelbestuur en al die nodige rolspelers is tans op die toneel,” het polisiewoordvoerder brigadier Brenda Muridili gesê.

Die plaaslike televisiestasie eNCA het berig dat die gedeeltelik ontklede liggaam by ’n begraafplaas gevind is.

Die nege ander slagoffers was meestal in hul 20’s en 30’s. Van hulle is ontklee gevind en het tekens van seksuele aanranding getoon.

Die eerste slagoffer, ’n 37-jarige vrou, is op 15 Julie kaal en met kabelbinders vasgebind gevind. ’n Verdagte is twee dae later in hegtenis geneem.

Twee ander verdagtes, vroue van 31 en 38 jaar oud, is in verband met die negende slagoffer in hegtenis geneem en Maandag aangekla.

Die polisie het gesê dié saak spruit moontlik uit ’n aangeleentheid wat met ’n verhouding verband hou.

Geslagsgebaseerde geweld is ’n ernstige en wydverspreide probleem in Suid-Afrika, ondanks jare se regeringsbeloftes om dit te bekamp en die verklaring van geslagsgebaseerde geweld as ’n nasionale ramp.

Suid-Afrika, met ’n bevolking van 62 miljoen, het een van die hoogste moordsyfers ter wêreld, met gemiddeld meer as 60 moorde per dag.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos