Oom Rugby: Springbokke moet hiervoor uitkyk in Rivalry-reeks

Aanlynrugbysensasie ‘Oom Rugby’ sal voortaan vir Die Papier skryf.
Aanlynrugbysensasie ‘Oom Rugby’ sal voortaan vir Die Papier skryf.

Verdedigingsafrigters sê graag vir hul spelers om “vinnig Noord toe te gaan”.

Wat dit beteken, is dat jy vinnig van die verdedigingslyn af opkom, vorentoe storm en probeer om jou teenstander agter die voordeellyn vas te vat.

Vanuit ’n speler se perspektief beteken om Noord toe te gaan dat jy veld wen. Dit beteken jy beweeg vorentoe, maak vordering, speel aggressief en wen die kontaksituasies.

Die Springbokke is goed daarmee om Noord te speel. Op die aanval skep hulle lynbreke, dra die bal en wen veld terwyl hulle ’n goeie persentasie van kontaksituasies wen.

Op die verdediging is hulle ook redelik goed daarmee om Noord toe te gaan. Hulle hou daarvan om vinnig op te kom, hulle wil jou terugdruk en, bo alles, wil hulle daardie uiters belangrike voordeellyn wen. Maar hoewel dié dinge noodsaaklik is, en hoewel om Noord toe te gaan steeds die verstandigste manier is om oor rugby te praat, dink ek hierdie reeks teen die All Blacks gaan bepaal word deur wat langs die Oos-Wes-as gebeur.

Dit is wat lateraal gebeur wat gaan bepaal of die Bokke die Greatest Rivalry-reeks wen of verloor.

Die rede waarom ek dit sê, is weens die werklike gevaar wat die All Blacks inhou. Ons praat oor hul vinnige tempo, hul vermoë om van enige plek af toe te slaan en die enorme balvaardighede wat hulle in staat stel om verdediging in ’n oogwink oop te klop.

Maar as jy daaroor dink, is dié dinge eintlik net uitkomste. Hulle is afhanklik daarvan dat iets anders eers gebeur – soos vinnige besit by ’n losgemaal, omgekeerde balbesit of flaters op verdediging.

Ek stel dus meer belang in wat die All Blacks kan doen om daardie toestande in die eerste plek te skep. En dit, dink ek, kom neer op hul laterale spel. Die All Blacks het die vermoë om voortdurend verskillende soorte aanvalle oor die breedte van die veld te skep. So toets hulle jou verdedigingslyn op verskeie plekke op die veld.

Dit is hoe dit vroeër was. Die beste All Black-spanne het hul aanval presies op dié beginsel van afwisseling, geduld en die onophoudelike soeke na spasie gebou.

Hulle sou kort dryfmaal-aanvalle loots. Dan kombinasies tussen die voorspelers, dan ’n aanval deur die middel. Terug na die kort dryfmaal-aanvalle. Die skrumskakel wat ’n gaping slaan.

Alles afwisselende spel. Dit was die manier waarop hulle jou lateraal getoets het wat jou uiteindelik blootgestel het met ’n mislukte duikslag of twee. En ek dink dit is wat ons weer van hierdie All Blacks gaan sien. Dit lyk asof hulle daardie superkrag herontdek.

Anton Lienert-Brown in aksie vir die All Blacks teen die Bulls.
Anton Lienert-Brown in aksie vir die All Blacks teen die Bulls. Foto: Johan Orton/Gallo Images.

Ek dink dus dit is wat vir die Bokke voorlê. En vergeet alles anders: dit is die werklike gevaar wat ons in die gesig staar.

Daar is ’n paar dinge wat ons kan doen om dit te kniehalter. Natuurlik gebeur baie daarvan op daardie Noord-Suid-speellyn. Dominante duikslae kan hulle vertraag en ons ’n kans gee om balbesit terug te wen.

Lynspoed kan hulle dwing om vroeg te speel en foute te maak. As ons die voordeellyn wen, kan ons vinniger ons lyne reg kry vir die volgende aanslag.

’n Groot les het uit ons wedstryd teen Skotland gekom. Onthou al daardie oënskynlik onverklaarbare lynbreke wat skielik begin gebeur het? Dit het gebeur omdat Skotland ons verdedigingspasie teen ons gebruik het. Daardie wydte het die Bok-verdedigers soos kougom uitgerek en gevolglik het hulle hul verbinding met mekaar verloor. Skielik het dit moeiliker geword om te lees en te merk (wie se man is dit?). Daarmee het die vermoë om mekaar te ondersteun en te dek, afgeneem.

Die All Blacks gaan dit na ’n heel ander vlak neem, en dit is wat ek sien aankom in hul benadering teenoor ons. Daarom gaan die Bokke se spasiëring, posisionering en hoe hulle aan mekaar verbind van kardinale belang wees.

Hulle verdediging mag nie te smal wees en maklik omseil word nie, maar ook nie te wyd dat hulle die vermoë verloor om as ’n eenheid te domineer nie. Hul laterale vorm en spasiëring, en hul vermoë om as ’n samehangende geheel aan te pas by die prentjie voor hulle, terwyl hulle terselfdertyd verbind bly aan mekaar, kan heel moontlik die heel belangrikste aspek van hul verdediging in die komende weke wees.

Nog ’n subtiele aspek van die laterale kant van verdediging is die vermoë om van lokaas-aanvallers af weg te skuif en aan te pas by baldraers wat van agter af omkom. Die All Blacks gaan baie groepe aanvallers gebruik, met hardlopers wat drie, vier en selfs vyf lae diep opgestel is.

Elke keer wanneer ’n verdediger op een laag reageer, word die bal na die volgende laag verskuif wat aan die agterkant omkom. En uiteindelik raak jy jou verdedigers op.

Daarom is dit noodsaaklik om baie intelligente en deeglik voorbereide spelers te hê wat spelpatrone kan ontsyfer en lyftaal in die oomblik kan lees, terwyl hulle voortdurend van vals baldraers af wegskuif na waar die aksie werklik gaan plaasvind.

Soos die All Blacks probeer om Oos-Wes-breedte in hul aanval te skep, moet die Bokke dit ook in hul verdediging doen. En pasop vir die oomblik wanneer ’n lokaas eintlik die aanvaller raak as die bal wél na hom toe gegooi word . . .

Die mees sigbare versinnebeelding van die All Blacks se laterale bedreiging is die verskeidenheid wat hulle tussen hul hardloop- en skopspel gaan bring. Daarmee bedoel ek dat hulle die bal gaan dra om jou te leer om die hardloopspel te verwag, en dan, wanneer jou verdedigers begin opdruk of inskiet, gaan hulle die skop gebruik om die ruimte wat dit skep uit te buit.

Daardie skoppe kan enige vorm aanneem, van ’n voetaangee, ’n rolskoppie langs die lyn af of ’n sagte skoppie in oop ruimte. Die bedreiging van laterale balbeweging dwing die verdedigers aan die buitekant en die agterste drie om besluite te neem, en daardie besluite skep geleenthede elders.

Weereens sal dit die Bokke se vermoë wees om lateraal aan te pas wat sal help om hierdie gevaar in bedwang te hou. En dit gaan nie net oor die agterste drie en hoe hulle dek nie; ek dink spesifiek aan die verdedigers reg op die rand. Hulle moet die spel lees en weet wanneer om in te storm om ’n beweging dood te maak, en wanneer om buite om te kom en die voetaangee of die “bridge pass” te dek. Dis laterale Russiese roulette.

Josh Moorby van die All Blacks druk ’n drie teen die Bulls.
Josh Moorby van die All Blacks druk ’n drie teen die Bulls. Foto: Johan Orton/Gallo Images.

Die laaste ding wat ek oor die laterale aspek van die spel wil sê, is natuurlik die skarrelverdediging. Hoewel die Bokke se Noord-Suid-drukverdediging al die lof kry, is dit eintlik die Oost-Wes-dekverdediging wat alles bymekaar hou.

Die Bokke se geweldige werktempo en honger om oor die veld te beweeg om ’n lynbreuk dood te maak of ’n inval langs die buitekant te stop, is moontlik hul indrukwekkendste eienskap. En hoewel daardie breuke altyd dramaties lyk, is die skade reeds ingereken. Want meer dikwels as nie word die speler naby die voordeellyn gevang waar die breuk begin het.

Die wonderlike voordeel van ’n hoë en vinnige verdediging is dat dit effektief diepte koop vir jou skarrelverdediging: jy het meer tyd en ruimte om ’n wegbreekspeler te vang voordat hy werklik positiewe grondgebied wen.

In hierdie reeks gaan ek al die gewone Noord-Suid-statistieke, soos dominante baldraers, lynspoed en dies meer, fyn dophou, maar wat my werklik gaan interesseer, is die stryd wat langs die Oos-Wes-front afspeel.

Want die All Blacks toon tekens dat hulle hul ou kenmerkende spel terugbring. En die Bokke sal op meer as net krag moet staatmaak om dit wat op pad is, te hanteer.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos