Nou – langer as 237 jaar ná die uitbreek van die Franse revolusie – lyk dit of minstens dele van die Franse bevolking weer in so ’n bui is.
Hoewel betogings, wat ook soms gewelddadig raak, niks nuut in Frankryk is nie, is hier ’n nuwe intensiteit.
Die betogers teiken republikeinse simbole, onder meer historiese standbeelde en stadsale – dié op Limoges is afgebrand.
Of dit net skoolleerders of studente wat swaarkry, opstokery vir politieke doeleindes, algehele ekonomiese frustrasies van die breër bevolking, of wat ook al is – dit het Europa geskud. Dit het ook reeds na ander lande, veral Spanje en Portugal, oorgewaai; ook in ’n mate na Griekeland, België, Albanië en Italië.
Al aanduidings is dat ekonomiese swaarkry en griewe die hoofoorsaak is – ook met meer linksgesinde vakbonde, wat betrokke is, en misdadige plunderaars, wat ’n geleentheid gesien het. Hoewel griewe oor immigrante nie voorop was nie, het regse politici soos Marine le Pen dit in die retoriek ingebring. Sy is die vroeë voorloper vir April 2027 se presidentsverkiesing.
Van die retoriek deur linkse, regse en ander groepe wat aan die betoging deelneem, is dat die bestaande politieke staatsorde nie meer werk nie en vervang moet word: “Daar is minder demokrasie en ’n konsentrasie van mag. Daar is ’n opbou van rykdom vir sommige, wat buite beheer is,” het van die betogers voor TV-kameras op die toneel gesê. Die politiek beleërde pres. Emmanuel Macron het ’n ystervuis-reaksie belowe – ook dat plunderaars en mense wat eiendom beskadig, opgespoor en gedwing gaan word om vir hul skade te betaal.
Die een vraag is of die soort optrede verder kan oorwaai, byvoorbeeld na Suid-Afrika?
Ja, reken prof. Jonathan Jansen, ’’n Stellenbosse akademikus, in ’n meningstuk by ’n ander mediatitel.
Insiggewend van sy kommentaar, wat meermale die skuldlas vir enigiets wat verkeerd loop, op die verlede pak, wys hy op ’n oorlewingsprobleem vir studente weens NSFAS-probleme – universeel dus swak regering, korrupsie en selfverryking.
Die tweede vraag: Is hier ’n universele keelvolheid met bestaande demokratiese politieke ordes?
Mense op voetsoolvlak kry al hoe swaarder, maar ervaar argeloosheid en selfverryking onder die politieke elite – toenemend ’n spesie beroepspolitici wat nie elders kon werk kry nie.
Die ekonomiese groeikoers in Rwanda van 9,4% en 6,3% in Uganda is trekpleisters vir ongekende ontwikkeling, modernisering en lok steeds verdere beleggers. Demokrasie is lankal al baie relatief in dié lande en politieke teenstanders van die regerings beland gereeld in die tronk. Aspekte van menseregte word ook makliker onderdruk.
Verkiesings is toenemend skynoefeninge. Maar Rwanda het pas die eerste Afrika-F1-Grand Prix in dekades losgeslaan. Hoewel armoede gewis nie heeltemal in dié twee lande uitgeroei is nie, is armoedevlakke verlaag.
Diegene in die gange van mag en ekonomiese voorspoed oral oor, moet pasop dat massas wat swaarkry, nie ’n “effektiewe diktatuur” tot voordeel van ’n gefokusde groeibeleid wil herverbeel nie – enigiets om hongerpyne en ellende te ontsnap, of selfs vir middelklasse om kop bo water te hou.
In Suid-Afrika skuif die mag op 4 November na alle kiesers. Dit is in ’n stembrief gesetel.
