MKP-veldtog gaan voort te midde van onsekerheid oor Zuma se gesondheid

Jacob Zuma Foto: Facebook
Jacob Zuma Foto: Facebook

Teenstrydige berigte oor oudpresident Jacob Zuma se gesondheid laat vrae ontstaan oor sy vermoë om die uMkhonto weSizwe-party (MKP) se verkiesingsveldtog voluit te lei, met minder as ’n maand oor voor die plaaslike verkiesing op 4 November.

Volgens berigte is Zuma vroeër vandeesweek hospitaal toe geneem nadat hy tydens ’n veldtogbesoek aan Msinga in KwaZulu-Natal siek geword het. The Witness het berig dat ’n ooggetuie hom per ambulans by ’n hospitaal gesien aankom het. Die koerant het later berig dat verskeie betroubare bronne bevestig het dat hy steeds in die hospitaal is. Die rede vir sy beweerde opname en die aard van sy toestand is egter nie amptelik bekend gemaak nie.

Die MKP het die berigte aanvanklik afgemaak en gesê Zuma het ’n roetine-mediese ondersoek ondergaan, wat hy glo twee keer per jaar ondergaan. Sifiso Mahlangu, die party se woordvoerder, het gesê Zuma is “gesond en in goeie gees” en dat sy veldtogprogram sal voortgaan. Die party het nie verdere besonderhede oor die ondersoek bekend gemaak of die berigte oor sy aankoms per ambulans volledig toegelig nie.

Die onsekerheid kom op ’n sensitiewe tyd vir die MKP. Zuma is die party se belangrikste openbare figuur en sy persoonlike deelname aan saamtrekke kan ’n rol speel in die mobilisering van ondersteuners, veral in KwaZulu-Natal.

Sy afwesigheid by ’n saamtrek in uMhlathuze op 3 Oktober het reeds ontevredenheid onder sommige ondersteuners ontlok. Volgens die SAUK het mense by die geleentheid gevra waar Zuma is, terwyl party sprekers onderbreek is. Willie Mchunu, die MKP se KwaZulu-Natal-leier, het namens Zuma om verskoning gevra en gesê die partypresident kan nie elke geleentheid persoonlik bywoon nie.

Die party se uitdaging is nou om duidelikheid oor Zuma se veldtogprogram te gee terwyl berigte oor sy gesondheid voortduur. Dit is nog nie bevestig watter toekomstige saamtrekke hy persoonlik sal bywoon nie.

Die MK-party sit sy verkiesingsveldtog voort ondanks onsekerheid oor oudpresident Jacob Zuma se gesondheid. Die party het sowat twee uur gelede op X foto’s en ’n verslag van ’n verkiesingsgeleentheid in die iLembe-distrik gedeel, waar leierskap die steun vir Khayelihle Madlala as die distrik se komende burgemeester herbevestig het. Die plasing bevat egter geen bywerking oor Zuma se gesondheid of sy huidige veldtogprogram nie.

Die MKP kan moontlik sleg geraak word in aanloop tot die plaaslike verkiesings op 4 November indien oudpres. Jacob Zuma sou doodgaan omdat die hele party om hom draai en daar vrae is oor wie hom sou opvolg, sê kenners.


“Dit lyk asof die MKP tans sy kaarte styf teen sy bors hou oor Zuma se gesondheid, want hulle is bekommerd oor die uitwerking wat dit op die verkiesing kan hê” sê prof. Theo Neethling, politieke ontleder verbonde aan Akademia.


“Sê nou maar hy kom tot sterwe, kan dit sleg wees vir MK,” sê hy.
“Die feit dat hy al die mag in homself gesentreer het en die feit dat daar nooit n interne verkeising van die MK-leierskap geskied het nie, kan uiteindelik teen die party tel, sou hy tot sterwe kom,” sê Neethling.


’n Familielid van Zuma het aan Die Papier bevestig dat hy in die hospitaal is, maar wou nie verder oor sy toestand uitbrei nie omdat sy privaatheid verkies.
Sifiso Mahlangu, MKP-woordvoerder, het nie dadelik op navrae gereageer nie.
Volgens Neethling staan die MKP hoofsaaklik in KwaZulu-Natal sterk.


“Die vraag is of die MK, aangesien dit in die nasionale verkiesing goed gevaar het in die platteland, ook in eThekwini goed gaan vaar. My gevoel is hulle gaan goed doen daar. Ook, as ons kyk na die marknavorsing wys dit MK sal ’n meerderheid van tussen 33% en 55% behaal. Met ander woorde op ’n baie goeie dag sal hulle 55% behaal en op ’n baie slegte dag nader aan 33%,” sê Neethling


Neehtling wys daarop dat Zuma na bewering ekslusiewe tekenregte op die MKP se bankrekening het, wat die party finansieel kan belemmer, sou Zuma sterf.
Zuma se moontlike afsterwe laat ook vrae oor wie hom sou opvolg as MKP-leier.


Volgens Neethling speel Duduzane Zuma en Duduzile Zuma-Sambudla belangrike rolle agter die skerms. Die vraag is volgens Neethling of Duduzane na vore sal tree, hoewel hy nie dieselfde vlak van erkenning as John Hlophe geniet nie.


“Sy dogter het ook agter die skerms ’n rol gespeel, hoewel dit ook blyk dat sy en haar pa soms in stryd was.
“Swaargewigte soos Floyd Shivambu is nog steeds daar, en Hlophe ook, hoewel daar onderlinge konflik met Zuma was,” sê Neethling.


Prof. Amanda Gouws, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê sy dink Zuma is die groot samebindende faktor wat die MKP by mekaar hou en mense werf en afdank.


“Ek weet nie of MK sou oorleef sonder sy basiese teenwoordigheid as die partyleier nie. As faksiegevegte om die leisels van die paty sou ontstaan, kan MK uit mekaar val, hoewel die sterker leiers seker die party bymekaar sal probeer hou.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos