‘Koortjies’ keer terug met aangrypende stories en musiek vir die siel

Elwira Standili. Foto: Verskaf
Elwira Standili. Foto: Verskaf

Verhale van verlies en hoop, gesprekke wat saak maak en musiek wat troos: dít wag op kykers in die nuwe seisoen van Koortjies. 

Vanaf Sondag 4 Oktober om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) deel bekendes hul persoonlike stories, kenners bied raad en gospelkunstenaars sorg vir musiek uit die hart.

Dié seisoen bring verhale van hoop ná verlies, heling ná moeilike kinderjare en die moed om elke dag opnuut aan te pak. Saam met die musiek is daar ruimte vir gesprekke oor seer wat dikwels agter toe deure gedra word, asook die uitdagings waarmee gemeenskappe daagliks worstel. Dis kos vir die siel waarmee kykers hul week op die regte noot kan begin.

Een van die besondere hoogtepunte is ’n eksklusiewe gesprek met die aktrise Veronique Jephtas, wat veral bekendheid vir haar rol as Jo-Ann Opperman in Arendsvlei verwerf het. Sy gesels vir die eerste keer oor haar miskraam en deel haar persoonlike ervaring van verlies, terwyl die rouberader Debra Sowter praktiese raad gee. 

Die sangeres Jesmé Swartz kom ook kuier en sing haar jongste enkelsnit.

Kykers kan verder uitsien na Moses Williams, beter bekend as Ouma Sarie. Hy deel sy eie storie in ’n gesprek oor heling ná seer kinderjare. Die pastoor en berader Anzelle Jacobs sluit aan met raad, en Jehané Quota sorg vir musiek wat harte warm sal sing. Dit bied kykers ’n geleentheid om die mens agter die bekende naam beter te leer ken.

Daar word ook op ’n besondere manier hulde gebring aan die geliefde televisie-aanbieder, Johnny Davids. Sy vrou, Liezel, en hul jongste seun deel hul harte terwyl sy sanggroep, Anthem SA, sy lewe en nalatenskap met musiek vereer. Die groep sing onder meer sy lied “Gee my weer lewe” wat ná sy dood uitgereik is. Dit beloof om ’n aangrypende kuier te wees vir almal wat deur sy stem en musiek geraak is.

Die komende seisoen pak ook bendegeweld aan met ’n rondetafelgesprek oor die impak daarvan en hoe dit bekamp kan word. 

Onder die paneellede is die Wes-Kaapse LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, en die pastoor en sanger Wilmot Fredericks, wie se eie seun in die straat doodgeskiet is. Sy persoonlike verlies gee besondere gewig aan dié gesprek oor ’n werklikheid wat soveel gesinne raak.

Hoop te midde van siekte kom eweneens onder die loep wanneer die Skemergrond-akteur Tarique Kenny oor sy seldsame siekte vertel en die mediese student Joy Schoor haar kankerstryd deel. Die Divine Grace Worship Team sorg vir die musiek tydens dié kuier.

Met dié uiteenlopende gaste bied Koortjies weer ’n plek waar kykers saam kan luister, nadink en ook weer moed kan skep.

Kom kuier van Sondag 4 Oktober om 19:00 saam op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) vir verhale wat die hart raak en musiek wat lank ná die laaste noot by jou bly.

Elwira Standili. Foto: Gys Loubser
Elwira Standili. Foto: Gys Loubser
  • Kyk Koortjies en ander kykNET & kie-gunstelinge, soos Suidooster en Skemergrond, op DStv Starter, wat meer as 85 TV-kanale vanaf R99 per maand insluit.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos