Kommer oor ‘vermiste’ Britse ontdekkingsreisiger Ranulph Fiennes

Sir Ranulph Fiennes op die rooi tapyt tydens die 113de jaarlikse dinee van die Explorers Club in 2017.
Sir Ranulph Fiennes op die rooi tapyt tydens die 113de jaarlikse dinee van die Explorers Club in 2017. Foto: William Edwards / AFP.

’n Wolk van misterie hang oor die lot van die legendariese Britse avonturier Ranulph Fiennes nadat familielede en vriende in die openbaar beweer het hy is vermis en dat sy vrou hom van die buitewêreld isoleer. Volgens berigte het een van hulle selfs Koning Charles om hulp genader.

Fiennes, die eerste persoon wat in die vroeë 1980’s die aarde van pool tot pool deurkruis het, is laas byna twee jaar gelede in die openbaar gesien. Dit was enkele maande nadat hy bekend gemaak het dat hy jare tevore met Parkinson se siekte gediagnoseer is.

Die Daily Telegraph het verlede week berig dat die 82-jarige deur sy vrou, Louise Millington-Cotes, in ’n reeks versorgingsoorde geplaas is. Sy het glo ook streng voorwaardes vir sy versorging gestel.

In ’n opvolgberig Vrydag, as deel van die koerant se maandelange ondersoek, is berig dat ’n toesighoudende liggaam vir die versorgingsektor in Wallis bevind het dat Fiennes vroeër vanjaar “onwettig van sy vryheid ontneem” is terwyl hy in ’n fasiliteit daar gehuisves is.

Fiennes tydens ’n toespraak by die dinee. Foto: William Edwards/AFP.
Fiennes tydens ’n toespraak by die dinee. Foto: William Edwards/AFP.

Intussen het Fiennes se stiefseun, Alex Millington-Cotes, vandeesweek ’n fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur om regskoste te dek ten einde hom op te spoor en te beskerm.

“Jy het moontlik onlangs die diep ontstellende nuus gehoor: Sir Ranulph Fiennes is vermis,” het hy aanlyn geskryf en bygevoeg dat hy reeds verskeie pogings aangewend het om hom op te spoor.

Hy het Fiennes as “’n nasionale skat” beskryf en sy stiefpa geloof as “ ’n man met ’n geweldige hart, vriendelikheid en onselfsugtigheid”.

Die Switserse oud-ontdekkingsreisiger en medewerker van Fiennes, Michael Kobold, het ook by die veldtog aangesluit om “die sluier van geheimhouding” oor sy verblyfplek te lig.

“My vriend van byna 30 jaar het verdwyn en dit lyk asof byna niemand, buiten ’n handjievol mense, iets wil doen om hierdie skandelike situasie te verander nie,” het hy vroeër die maand in ’n uitgebreide bloginskrywing geskryf.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos