Die DA is positief oor sy voorlopige verkiesingsuitslae in die JB Marks-munisipaliteit, waar die party volgens sy telling reeds 12 wyke ingepalm het.
Theo Venter, die DA se burgemeesterskandidaat in JB Marks, sê die uitslag dui op ’n besonder mededingende stryd tussen die DA en die ANC om die reg om die volgende koalisie saam te stel.
Onder die wyke waaroor die DA besonder opgewonde is, is wyke 2, 3, 5 en 22. Die party loop ook volgens Venter voor in wyk 24, waar baie studente woon, terwyl hy sê die DA het wyk 21 in Promosa by die ANC oorgeneem.
Venter sê die uitslag is veral betekenisvol teen die agtergrond van die byna gelyke verdeling tussen die DA en ANC in 2016.
Die DA sal eers die volledige uitslag en die stand van die stadsraad ontleed voordat besluite oor moontlike koalisievennote geneem word. Venter sê die party se beleid is dat koalisiebesluite op federale vlak geneem word, met plaaslike omstandighede wat in ag geneem word.
- Volg die uitslae soos verskaf vanaf die OVK op NovaNews se website hier.
Die DA se eerste prioriteit sal volgens hom wees om ’n behoorlike stand van sake in die munisipaliteit op te neem, Ventersdorp weer op koers te kry en die diensleweringskrisis in Potchefstroom aan te pak.
Venter sê hy het die afgelope maand verskeie besoeke aan Ventersdorp gebring en beskryf die situasie daar as ’n dringende krisis. Inwoners het volgens hom nie betroubare toegang tot water en skoon drinkwater nie, terwyl rioolprobleme ook ’n ernstige uitdaging is.
“Menswaardigheid” moet volgens hom die kern van die munisipaliteit se herstelplan wees. Dit sal onder meer vereis dat die finansiële posisie van die munisipaliteit ondersoek word en dat daar bepaal word watter ingrypings dienslewering die vinnigste kan verbeter.
Venter sê die DA wil ook hê dat die munisipale grense heroorweeg word sodat Ventersdorp en Potchefstroom weer afsonderlik bestuur kan word. Die twee gebiede is in 2016 saamgevoeg om die JB Marks-munisipaliteit te vorm.
Hoewel die DA gehoop het dat dié kwessie voor die verkiesing opgelos sou word, sal dit volgens Venter nou eers ná die verkiesing verder gevoer kan word. Dit kan egter ’n nuwe verkiesing noodsaak.
