‘Hou dit by die wedstryd’ toe media Bok-kaptein oor uitlatings van toeka wou vra

André Esterhuizen. Foto: X/sarugbymag
André Esterhuizen. Foto: X/sarugbymag

Die omstredenheid rondom André Esterhuizen, wat Sondag die Springbokke teen die Wallabies aanvoer, het Saterdag ’n nuwe wending geneem.

Esterhuizen se aanstelling as kaptein vir die toets in Perth het op sosiale media opslae gemaak nadat ’n voorval uit 2012, toe die 18-jarige Esterhuizen nog op skool was, weer onder die aandag gekom het.

Skorsing

Esterhuizen, wat destyds vir Klerksdorp Hoërskool gespeel het, het na bewering ’n rassistiese skelwoord teenoor ’n afrigter van die teenstander gebruik.

Hy is ná die voorval vir ’n jaar uit rugby geskors, waarvan ses maande opgeskort is.

‘Hou dit by die wedstryd’

Esterhuizen het Saterdag voor die media verskyn tydens die Springbokke se laaste mediakonferensie voor die kragmeting met die Wallabies.

Die Suid-Afrikaanse mediabestuurder, Zeena Isaacs, het joernaliste egter gevra om nie tydens die perskonferensie vrae oor die voorval te vra nie.

“Ouens, net vooraf, ons gaan nie die kwessie van die artikels wat op sosiale media rondgaan en allerhande ander dinge hanteer nie. Ek wil dus vra dat julle asseblief by die wedstryd hou en seker maak alle vrae hou met die wedstryd verband. Respekteer dit asseblief,” het sy gesê.

Toe die onderwerp wel geopper is, het Isaacs dit vinnig van die hand gewys.

‘Dit gaan oor die span’

André Esterhuizen. Foto: KickOff
André Esterhuizen. Foto: KickOff

Esterhuizen het wel gesê dit is ’n voorreg om die Bokke aan te voer.

“Ek gaan net my rol as kaptein vervul, maar dit gaan steeds alles oor die span,” het hy gesê.

“Ons het soveel leiers wat mekaar help. Uiteindelik gaan dit oor wat ons almal saam op die veld doen.”

  • Sondag se wedstryd skop om 11:45 af.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos