Hewige gevegte, internetonderbrekings in Ethiopië

Ethiopiese rebelle in die straat. Foto: X
Ethiopiese rebelle in die straat. Foto: X

Ethiopiese magte het oornag gevegte gevoer om ’n aanval deur Tigray-rebelle in die Afar-streek af te weer, het ’n humanitêre bron Vrydag gesê. Intussen is daar berigte van ’n internetonderbreking in die noorde van die land.

Rebelle in die noordelike Tigray-streek het dié week plaaslike lughawens oorgeneem en aanvalle op die naburige streke Afar en Amhara geloods. Hulle sê hulle is weer in ’n “volskaalse oorlog” met die federale regering gewikkel.

Inwoners vrees ’n herhaling van die telekommunikasie-afsluiting en blokkade van noodsaaklike voorrade wat tydens die vorige burgeroorlog van 2020 tot 2022 op Tigray toegepas is. Na raming is 600 000 mense in dié konflik dood.

Die aanlynmoniteringsgroep NetBlocks het gesê daar is ’n “internetonderbreking in die noorde van Ethiopië wat ooreenstem met berigte van ’n telekommunikasie-afsluiting in Tigray”. AFP kon Vrydag nie telefonies met bronne in die streek kontak maak nie.

’n Humanitêre bron in Afar het gesê daar was “hewige gevegte oornag” rondom die dorp Abala, wat in die berge op die grens met Tigray geleë is.

“Die federale magte het die rebelle teruggedryf en verhoed dat hulle die dorp binnegaan,” het die bron gesê en bygevoeg dat die weermag ’n hommeltuig gebruik het.

Swaar gevegte het Donderdag in die North Wollo-sone van Amhara uitgebreek, onder meer naby die UNESCO-wêrelderfenisterreine in Lalibela, die tuiste van Ethiopië se beroemde rotskerke.

Een van die klipkerke in Lalibela. Foto: Oleksiy Yeshtokyn/pexels.com
Een van die klipkerke in Lalibela. Foto: Oleksiy Yeshtokyn/pexels.com

Ontleders sê die Tigray People’s Liberation Front (TPLF) herhaal blykbaar sy strategie van die vorige oorlog – om suidwaarts deur Amhara na die hoofstad, Addis Ababa, op te ruk.

Die offensief in Afar is waarskynlik daarop gemik om voorrade uit Djiboeti af te sny. Djiboeti hanteer byna al Ethiopië se internasionale vragvervoer, insluitend brandstof.

Die TPLF het ’n alliansie met ses ander gewapende groepe regoor die land gesmee in ’n poging om die regering van premier Abiy Ahmed omver te werp.

“Die alliansie probeer waarskynlik nedersettings langs belangrike infrastruktuurroetes oorneem om die federale regering se vermoë om voorrade te lewer, te ondermyn,” het Edward Bach van die konsultasiefirma Verisk Maplecroft aan AFP gesê.

Die regering het egter ’n beduidende militêre voordeel, met ’n groot arsenaal hommeltuie, ’n weermag van sowat 500 000 soldate en die steun van eksterne rolspelers, veral die Verenigde Arabiese Emirate.

Die hernude gevegte kom op ’n ongemaklike tydstip vir die Verenigde State, wat eers dié maand sanksies teen Ethiopië en Eritrea wat verband hou met gruweldade tydens die vorige burgeroorlog, opgehef het. Die VSA het gesê die “nasionale noodgeval … het verstryk”.

Die Amerikaanse ambassade het dié week die kant van die Ethiopiese regering gekies en gesê hy is “teleurgesteld om te sien dat die leierskap van die TPLF … ’n grootskaalse offensief geloods het”.

Die konflik kan ook die naburige Eritrea by die oorlog betrek. Eritrea vrees dat die landgeslote Ethiopië beplan om dit binne te val om toegang tot die Rooi See te verkry.

Paniekaankope

Terug in Tigray het pryse van basiese goedere die hoogte ingeskiet namate inwoners gejaag het om voorrade op te koop.

“Daar is paniek in die gemeenskap,” het die 37-jarige Samuel Gebreslassie, wat in ’n speserywinkel in Tigray se hoofstad, Mekelle, werk, Donderdag aan AFP gesê.

“Daar is groot vrees dat banke, telekommunikasienetwerke, elektrisiteit en basiese goedere weer afgesny kan word.”

Die TPLF het die hele Ethiopië van 1991 tot 2018 regeer voordat die beweging met Abiy se bewindsoorname op die agtergrond geskuif is. Dit het uiteindelik tot ’n burgeroorlog gelei wat gekenmerk is deur wydverspreide oorlogsmisdade en seksuele geweld.

Die Pretoria-vredesooreenkoms van 2022 het ’n ongemaklike kalmte gehandhaaf totdat spanning verlede jaar weer toegeneem het. Die ooreenkoms is egter nooit ten volle geïmplementeer nie, en sowat een miljoen mense is steeds ontheem.

Sporadiese gevegte het daarna hervat, met federale magte wat die afgelope maande verskeie hommeltuigaanvalle in Tigray uitgevoer en troepe langs die grens saamgetrek het.

Menseregtegroepe het die TPLF daarvan beskuldig dat hy vanjaar ’n veldtog van gedwonge werwing gevoer het ter voorbereiding op ’n hernieude konflik.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos