Groot finansiële verliese wink: Krisis rondom Turkye se beleggingsfondskandaal styg radikaal

Fatma Betül Sayan Kaya. Foto: X
Fatma Betül Sayan Kaya. Foto: X

’n Voormalige minister en senior lid van die Turkse president Recep Tayyip Erdoğan se regerende AKP-party het Saterdagaand laat aangekondig dat sy bedank het te midde van ’n groot krisis rondom beleggingsfondse.

Die laatnag-plasing op X volg ná dae van toenemende bespiegeling oor Betül Sayan Kaya se beweerde bande met die steeds groter wordende beleggingskandaal wat vroeër vandeesmaand uitgebreek het en vrese vir ’n likiditeitskrisis laat ontstaan het.

Reguleerders het vinnig opgetree om die krisis te probeer hanteer en het sewe maatskappye, wat 131 beleggingsfondse bestuur, in likwidasie geplaas. Die bates van dié fondse is na bewering sowat $17 miljard werd.

“Ek het ons partyvoorsitter versoek om my van al die poste en verantwoordelikhede wat ek tans beklee, te onthef,” het sy geskryf.

“Ek glo dit is nodig om politieke verantwoordelikheid te aanvaar om te verseker dat die amp wat ek beklee nie die onderwerp van openbare debat word nie en dat die ondersoek onafhanklik, onpartydig en sonder enige vermoede van of onbehoorlike invloed gevoer kan word.”

Dit was nie onmiddellik duidelik of haar bedanking aanvaar is nie. Luidens berigte is daar versoek dat haar, asook haar man, se bates bevries moet word. Dit sluit ook bates van hul kinders in.

Die belangrikste opposisieparty, Yeni Parti (Nuwe Party), het Saterdag vir meer duidelikheid gevra oor bewerings dat Kaya ’n aandelebelegging van 63 miljoen Turkse lira ($1,3 miljoen) gemaak het wat sowat 1,3 miljard lira se opbrengs gelewer het.

Kaya – wat van 2016 tot 2018 as minister van gesinsake gedien het – en haar man het na bewering hul aandele verkoop voordat die skandaal uitgebreek het.

Die krisis het vroeg in September ontstaan nadat Turkye se Kapitaalmarkteraad (SPK) sy riglyne vir beleggingsfondse verander het. Fondse mag volgens die nuwe reëls nie meer al hul bates in een aandeel belê nie en moet hul beleggings diversifiseer.

Die stap was daarop gemik om kommer aan te spreek dat talle fondse swaar in ’n klein aantal onbekende of moeilik verhandelbare aandele belê het.

Om aan die nuwe reëls te voldoen, het fondse begin om aandele te verkoop, wat beleggers senuweeagtig gemaak het en daartoe gelei het dat hulle hul beleggings probeer verkoop het.

Die skandaal het egter verlede week uitgebreek toe verskeie maatskappye erken het dat hulle nie aan beleggers se versoeke om hul beleggings terug te betaal, kon voldoen nie. Dit het die Istanboel-aandelebeurs skerp laat tuimel.

’n Dag later het die SPK al 131 beleggingsfondse in likwidasie geplaas. Volgens die SPK is meer as 455 000 individuele beleggers hierdeur geraak.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos