Griekwas en Kavaliers kraai koning ná stewige vertonings in Curriebeker-wedstryde

Tiaan Lange. Foto: X/Rugby365
Tiaan Lange. Foto: X/Rugby365

Griekwas speel Haai voos

Die Griekwas het Vrydagaand in Kimberley opnuut bewys waarom hulle moeilik as Curriebeker-kampioene onttroon sal word met ’n oortuigende vertoning teen die Sharks.

Die tuisspan het met 55-21 gewen nadat hulle rustyd met 26-21 voorgeloop het.

Die Griekwas het nege drieë in die wedstryd gedruk, met hul gevaarlike agterspelers wat moeilik gestuit kon word, terwyl hul dryfmaal ook ’n uitdaging vir die Sharks was.

Dylan Maart en Tiaan Lange het elk ’n driekuns behaal, terwyl Bobby Alexander ook ’n drie gedruk het en daar ’n strafdrie was.

George Whitehead en Liam Koen het elk twee doelskoppe bygevoeg.

Tino Mavesere, Tim Swiel en Johan Momsen het vir die Sharks gedruk, met Swiel wat twee doelskoppe en Luan Giliomee ’n derde doelskop oorgeskop het.

Die Griekwas is boaan die Curriebeker-punteleer, terwyl die Sharks se kanse om die uitspeelrondes te haal vinnig vervaag.

Puntemakers

Griekwas

Drieë: Janus Venter, Dylan Maart (3), Bobby Alexander, Tiaan Lange (3), strafdrie
Doelskoppe: George Whitehead (2), Liam Koen (2)

Sharks

Drieë: Tino Mavesere, Tim Swiel, Johan Momsen
Doelskoppe: Luan Giliomee, Tim Swiel (2)

Kavaliers klop die Leeus op hul tuisveld

Die Sanlam Boland Kavaliers het van ’n 17-0-agterstand teruggeveg om vyf drieë te druk en die Fidelity ADT Lions Vrydagmiddag op Wits-stadion in Johannesburg met 38-29 (rustyd 14-17) te verslaan in ’n geïnspireerde terugvegoorwinning in ’n vyfde-rondtewedstryd van die Carling Curriebeker.

Die bonuspuntoorwinning het die Bolanders met twee rondes oor na die derde plek op die punteleer geneem – hoewel die ander drie wedstryde van die naweek nog gespeel moes word.

Plaasvervanger James Tedder se strafskop met ’n minuut oor het uiteindelik die uitslag van die wedstryd, waarin altesaam nege drieë gedruk is, bepaal en, moontlik van deurslaggewende belang, die tuisspan op die nippertjie van ’n verloorbonuspunt beroof.

Puntemakers

Fidelity Lions

Drieë: Keagan Smith (2), Jarod Cairns, Rynhardt Jonker
Doelskoppe: Sam Francis (3)
Strafskop: Sam Francis

Sanlam Boland Kavaliers

Drieë: Mthokozisi Gumede (2), Gift Dlamini, Sibu Sangweni, Jeandré Leonard
Doelskoppe: Ashlon Davids (3), James Tedder (2)
Strafskop: James Tedder


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos