Die Springbok-senter Damian de Allende sal die 10de speler in die geskiedenis word wat 100 toetswedstryde vir Suid-Afrika speel wanneer die Bokke Saterdag die All Blacks pak in die openingswedstryd van die Greatest Rivalry-reeks in Johannesburg.
Die span wat vir die openingswedstryd van die reeks op Ellispark aangekondig is, is ’n kombinasie van spelers wat teen Argentinië uitgedraf het en spelers wat in Suid-Afrika agtergebly het. Maar die Bokke sal sonder hul gereelde kaptein, Siya Kolisi, moet klaarkom.
Sacha Feinberg-Mngomezulu begin op losskakel, terwyl Manie Libbok op die plaasvervangersbank ingesluit is.
Die meeste spelers in Springbok-afrigter Rassie Erasmus se beginspan, insluitend kaptein Pieter-Steph du Toit, het verlede week reeds in Johannesburg met voorbereidings vir die reeks begin, terwyl die res van die groep na Argentinië gereis het vir die toets teen die Pumas.
Slegs twee spelers wat die toets teen Argentinië begin het, behou hul plekke in die beginspan: Eben Etzebeth (slot) en Feinberg-Mngomezulu (losskakel). Die Bokke het dié toets 17-10 gewen het
Nog sewe spelers uit die wedstryd in Buenos Aires is op die plaasvervangerbank ingesluit: Jan-Hendrik Wessels, Marco van Staden en Cobus Wiese (veelsydige voorspelers), Gerhard Steenekamp en Zachary Porthen (stutte), André Esterhuizen (flank en senter) en Cobus Reinach (skrumskakel).
Feinberg-Mngomezulu sal saam met Grant Williams die skakelpaar vorm, terwyl Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse op die vleuels uitdraf en Damian Willemse heelagter speel.
Die agterlyn word voltooi deur die gedugte senterpaar, De Allende en Jesse Kriel.
Ox Nche maak ’n welkome terugkeer ná besering en sal saam met Wilco Louw en Malcolm Marx die voorry vorm, terwyl Etzebeth weer met Ruan Nortjé in die tweede ry in die skrum sal sak. Paul de Villiers, Du Toit en Jasper Wiese vorm die losvoorspelers.
Springbok-span teen die All Blacks
15. Damian Willemse, 14. Cheslin Kolbe, 13. Jesse Kriel, 12. Damian de Allende, 11. Kurt-Lee Arendse, 10. Sacha Feinberg-Mngomezulu, 9. Grant Williams, 8. Jasper Wiese, 7. Pieter-Steph du Toit (kaptein), 6. Paul de Villiers, 5. Ruan Nortjé, 4. Eben Etzebeth, 3. Wilco Louw, 2. Malcolm Marx, 1. Ox Nche.
Plaasvervangers: 16. Jan-Hendrik Wessels, 17. Gerhard Steenekamp, 18. Zachary Porthen, 19. Cobus Wiese, 20. André Esterhuizen, 21. Marco van Staden, 22. Cobus Reinach, 23. Manie Libbok.
