Gesogte SAAWK-toekennings en erepennings: Hier is die wenners

Vanjaar se SAAWK-bekroondes. Foto: Verskaf
Vanjaar se SAAWK-bekroondes. Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) se jaarlikse bekroningsplegtigheid het op 2 Oktober 2026 in Pretoria plaasgevind. 

Die SA Akademie se pryse en erepennings verleen erkenning aan uitnemende prestasie en  besondere bydraes oor ’n breë verskeidenheid terreine, waaronder die natuur- en geestes wetenskappe, letterkunde, vertaling, drama, joernalistiek en die visuele kunste.

Vanjaar se  bekronings het erkenning verleen aan sowel gevestigde figure wat oor dekades heen betekenisvolle  bydraes op hul onderskeie vakgebiede gelewer het as aan jong Afrikaanse skrywers wat reeds op skoolvlak besondere talent en belofte toon. 

Tom Dreyer is met die Hertzogprys vir Poësie bekroon. Foto: Verskaf
Tom Dreyer is met die Hertzogprys vir Poësie bekroon. Foto: Verskaf
  • Op letterkundige gebied is die gesogte Hertzogprys vir Poësie aan Tom Dreyer toegeken vir Nou in infrarooi.
  • Die Eugène Maraisprys vir Poësie is vanjaar toegeken aan Lynthia Julius vir Kinderlê en Alwyn Roux vir weerskyn.
  • Bun Booyens het die L.W. Hiemstraprys vir Niefiksie ontvang vir Troep: die dinge wat hulle saamdra.
  • Naòmi Morgan is met die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk bekroon vir Ons wag vir Godot. 

Tobie Cronjé

Tobie Cronjé. Foto: Verskaf
Tobie Cronjé. Foto: Verskaf

Die SA Akademieprys vir Drama, wat ’n lewenslange bydrae tot drama in Afrikaans erken, is aan  die akteur Tobie Cronjé toegeken. Sy loopbaan strek reeds oor meer as vyf dekades en sluit werk in teater, radio, televisie en rolprent in. 

Natuurwetenskappe

Op natuurwetenskaplike gebied het prof. Johan Schoeman die M.T. Steynprys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie ontvang. Die prys, wat die kroon oor  lewenswerk span, erken sy omvangryke bydrae tot die veeartsenykundige wetenskappe. Prof. Louis du Preez is met die Havengaprys vir Lewenswetenskappe vereer vir sy navorsingsloopbaan in onder meer herpetologie en parasitologie. 

Die SA Akademie se Erepenning van die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie is aan prof. Francois Engelbrecht toegeken vir sy buitengewone bydrae tot klimaatwetenskap en veral sy werk  in klimaatmodellering en Afrikagesentreerde aardstelselmodelle. 

Die Erepenning vir Geesteswetenskappe is aan dr. Karel Prinsloo toegeken vir sy  baanbrekerswerk in sosiolinguistiek, taalbeplanning en taalpolitiek. 

In die kunste is dr. Walter Oltmann met die Erepenning vir Visuele Kunste vereer vir sy volgehoue  en invloedryke bydrae tot die Suid-Afrikaanse beeldende kunste. 

Die Markus Viljoenmedalje vir Joernalistiek is aan Michélle van Breda, redakteur van SARIE, toegeken ter erkenning van haar langdurige en hoogstaande bydrae tot Afrikaanse joernalistiek. 

Op die gebied van film is Jason Jacobs en Devon Delmar met die Deleen Bekkerprys vir die Beste Rolprentdraaiboek in Afrikaans bekroon vir Carissa.

Die SA Akademie het ook erkenning gegee aan wetenskaplike publikasies van hoogstaande gehalte. Prof. Fransjohan Pretorius het die Jacques van der Elstprys vir 2024 ontvang vir sy artikel oor die Britse Intelligensiediens tydens die Anglo-Boereoorlog, terwyl prof. Tobie van Dyk die Jacques van der Elstprys vir 2025 ontvang het vir sy artikel oor Afrikaans as akademiese taal.

Die Douw Greeffprys vir 2025 is toegeken aan dr. Shaun Redgard, prof. Johan Venter en prof. Andreas Roodt vir hul navorsingsartikel in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie. 

Jong skrywers

Die jongste generasie Afrikaanse skrywers is ook tydens die geleentheid gevier. Die POORT-pryse, wat jaarliks aan leerders in grade 10 tot 12 toegeken word, het gegaan aan:

  • Micke de Jager van DF Akademie vir poësie in Afrikaans Huistaal
  • Engela Whittle van Hoërskool Curro Durbanville vir poësie in Afrikaans Addisionele Taal
  • Syntechè Hodson van Hoërskool Brackenfell vir prosa in Afrikaans Huistaal
  • Cirstie Esau van Hoërskool Curro Durbanville vir prosa in Afrikaans Addisionele Taal. 

Volgens die SA Akademie weerspieël vanjaar se bekronings die buitengewone omvang van werk  wat steeds deur Afrikaans moontlik gemaak word: as taal van wetenskap en navorsing, letterkunde  en kuns, joernalistiek, onderwys en openbare kultuur. 

“Wanneer ’n mens na vanjaar se bekroondes kyk, sien jy nie bloot individuele prestasie nie. Jy sien ’n kennis- en kultuurgemeenskap wat oor generasies heen voortbou – van ’n skolier wat haar eerste treë as skrywer gee tot wetenskaplikes, kunstenaars en taalwerkers wie se loopbane oor dekades strek.

Dit is juis hierdie kontinuïteit van gehalte, skepping en kennis wat die SA Akademie deur sy bekronings wil erken en aanmoedig,” het dr. Annelise de Vries, hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie, gesê. 


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos