Gauteng se departement van menslike nedersettings gaan nie langer mense wat onwettige informele nedersettings oprig, voorkeur gee wanneer staatsbehuising toegeken word nie.
Tasneem Motara, Gautengse LUR vir menslike nedersettings, het Dinsdag gewaarsku dat inwoners wat grond onwettig beset, nie voor diegene wat jare lank wag en volgens die proses aansoek gedoen het, geplaas sal word nie.
Volgens Motara sal die departement se prioriteit wees om behuising toe te ken aan mense wat reeds tussen 1996 en 1999 aansoek gedoen het.
“Informele nedersettings hou ons terug, en ons kan nie aanhou om diegene wat onwettig optree te prioritiseer nie, want wat hulle doen is onwettig. Hulle beset grond onregmatig in ’n poging om voorkeurbehandeling te kry,” het Motara gesê.
Sy het gesê die regering moet steeds dienste aan informele nedersettings lewer, maar dit mag volgens haar nie ten koste wees van inwoners wat die bestaande proses volg en geduldig op behuising wag nie.
“. . . ons moet wel dienste aan hulle lewer, maar dit kan nie ten koste wees van mense wat geduldig is en die wet gehoorsaam nie. Hulle wag hul beurt af en werk met die owerhede saam,” het sy gesê.
1 576 huise vir Mabopane
Motara het tydens die steenleggingsgeleentheid vir die langverwagte Mabopane-uitbreiding 1-behuisingsprojek gepraat.
Die ontwikkeling sal na verwagting 1 576 behuisingseenhede oplewer en behoort teen Junie 2027 voltooi te wees.
Die projek is voorheen vertraag nadat die departement kontrakte met twee kontrakteurs beëindig het. Motara het gesê die provinsie wil nou projekte wat reeds goedgekeur is, maar om verskeie redes tot stilstand gekom het, weer aan die gang kry.
Sy het gesê Tshwane het ’n groot behuisingsagterstand en groot vraag na behuising, maar ook ruimte vir verdere ontwikkeling.
“. . . Ons is as provinsiale departement van Menslike Nedersettings is nie tevrede met die aantal huise wat gebou word in ’n metropolitaanse munisipaliteit met só ’n groot behuisingsagterstand nie,” het sy gesê.
Motara het ook gesê die provinsie werk saam met die Stad Tshwane om onder meer agterstallige titelaktes en ander ou probleme aan te spreek.
Sy het gesê die regering wil met die Mabopane-gemeenskap saamwerk en inwoners op hoogte hou namate die huise in verskillende fases voltooi en toegeken word.
‘Ons sal indringers verwyder’
Nasiphi Moya, burgemeester van Tshwane, het die samewerking tussen die provinsiale en plaaslike regering geloof en gesê die Mabopane-projek wys wat bereik kan word wanneer verskillende regeringsfere saamwerk.
Aaron Maluleka, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het inwoners terselfdertyd gewaarsku om nie behuisingsprojekte te probeer beset nie.
“Ons wil diegene ontmoedig wat planne het om ons projekte te beset. Ons het ons uitsettingsbevele gereed. As jy jou kanse vat, gaan ons jou verwyder,” het Maluleka gesê.
Hy het inwoners ook gewaarsku om nie geld aan mense te betaal in ’n poging om ’n huis te bekom of die behuisingswaglys te spring nie.
Volgens Maluleka sal mense wat op dié manier huise bekom, uit die huise verwyder word.
Die provinsiale regering sê die Mabopane-uitbreiding 1-projek is een van die behuisingsprojekte wat ná samewerking tussen die provinsie en Tshwane ontsluit is.
Die projek se verwagte voltooiingsdatum is Junie 2027.
