Firmas hou die handrem op

Ekonomie.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Maatskappye se kontantreserwes groei sterk, maar hulle hou steeds die handrem op investering – ’n skerp kontras in ’n ekonomie wat juis private kapitaal nodig het om groei aan te wakker.

Groei in deposito’s deur nie-­finansiële maatskappye (soos maat­skappye in farmaseutiese, ener­gie- en konstruksiesektore), het volgens die Reserwebank se jongste kwartaalbulletin van 6,8% in Januarie tot 10,4% in Julie gestyg.

Dit beteken meer geld hoop in maatskappye se bankrekeninge op, terwyl investering in die ekonomie agterweë bly.

Prof. Raymond Parsons, ’n ekonoom by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Sakeskool, sê dis “tekenend van die swak investe­ringsvooruitsigte”.

Boonop vermeld die kwartaalbulletin dat reëlevastekapitaalvorming deur private ondernemings in die tweede kwartaal met 0,2% gekrimp het, nadat dit in die eerste kwar­taal al met 0,1% gekrimp het. Dit is ondanks die Februarie-begroting se vooruitsig dat vastekapitaalvorming in 2026 ná ’n inkrimping verlede jaar met 2,4% sou herstel.

Die investeringstekort hou ’n uitdaging in vir pres. Cyril Ramaphosa se droom om infrastruktuur die spilpunt van ekonomiese groei en werkskepping te maak.

Die regering maak staat op private kapitaal om beperkte staatsfinansies aan te vul en die uitbreiding van energie-, vervoer-, logistieke en ander infrastruktuur te help finansier.

Ramaphosa het in Augustus by die Volhoubare Infrastruktuur­ontwikkelingsimposium gesê Suid-Afrika se investeringsvlak bly “ver onder” wat nodig is om vinniger en meer volhoubare ekonomiese groei te bewerkstellig.

Die regering se portefeulje van projekte het van sowat R340 miljard in 2020 tot meer as R1,67 triljoen gegroei en bestaan uit 195 infra­struktuurprojekte, wat deur die openbare en private sektor gelei word. Altesaam 32 projekte ter waarde van ongeveer R48 miljard is afgehandel, met 55 projekte ter waarde van meer as R407 miljard, wat tans onderweg is.

Parsons sê in die NWU se ­jongste beleidsonsekerheidsindeks: “Sonder aansienlik hoër vaste investering sal die ekonomie sukkel om uit sy huidige nou groeiband van 1% tot 2% te breek.”

Hy verwys ook na ’n Nedbank-­peiling van genoteerde kapitaalprojekte, wat wys dat vaste investering in die eerste helfte van 2026 met 81% gedaal het. “Dit bevestig in watter mate negatiewe faktore steeds swaarder as positiewe faktore weeg wanneer ondernemings investeringsbesluite neem.”

Die nuwe beleidsonsekerheids­indekssyfer (61,3) lyk beter as in die tweede kwartaal (81,9), maar bly bo die 50-kerf, wat daarop dui dat beleidsonsekerheid steeds hoog is.

“Op ’n positiewe noot sal vorde­ring met openbare infrastruktuur­besteding en onomkeerbare hervormings in elektrisiteit, logistiek en hernubare energie waarskynlik steeds die investeringsvooruitsigte oor die medium termyn ietwat verbeter,” sê Parsons.

Maar Suid-Afrika se verhouding van vaste investering tot bruto binnelandse produk is steeds net sowat 14% teenoor die ongeveer 20% wat volgens Parsons vir ekono­miese groei nodig is.

“Die veranderde ekonomiese omstandighede sedert die begin van 2026 sal vereis dat die fiskale maatstawwe in die mediumtermyn­begroting op 21 Oktober hersien word,” sê hy.

“Hoewel belastinginkomste steeds betreklik sterk vaar en staats­besteding in die algemeen onder beheer bly, staan die tesourie voor verskeie uitdagings met die opstel van die mediumtermyn­begrotingsbeleidsverklaring.

“ ’n Besluit sal geneem moet word in watter mate die groeiverwagting, wat in Februarie gestel is, afwaarts aangepas moet word. ’n Geloofwaardige fiskale raamwerk behoort realistiese ekonomiese omstandig­hede te weerspieël, eerder as om op ooroptimistiese groeivooruitskattings staat te maak.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos