Ekurhuleni draai sy rug op ANC

Die DA is sterk oppad om ANC te wen in Ekhuruleni.

Die politieke magsbalans in Ekurhuleni is besig om te skuif, met die ANC wat steun verloor, die DA wat voorloop en ActionSA wat as ’n sleutelrolspeler na vore tree.

Volgens dr. Oscar van Heerden kan die nuwe stemverdeling boonop groter stabiliteit vir die metro se koalisieregering inhou. “Die moontlikheid van stabiliteit is natuurlik groot gegee oor die feit dat die getalle wys dat dit moontlik net twee partye sal vat om ’n koalisieregering te kan vorm.”

Teen ongeveer 13:00 Vrydagmiddag, met 64% van Ekurhuleni se stemdistrikte getel, het die DA volgens voorlopige Verkiesingskommissie (OVK)-syfers die voortou geneem met 29,3% van die proporsionele verteenwoordigingstem, oftewel 146 417 stemme.

Die ANC was tweede met 22,3% (111 426 stemme), gevolg deur ActionSA met 20% (99 715 stemme). Die MK-party het 7,2% (35 765 stemme) aangeteken, die EFF 6,1% (30 452 stemme) en die VF Plus 5,6% (27 889 stemme).

Van Heerden sê kiesers het klaarblyklik besluit om die ANC by die stembus te straf, maar was terselfdertyd huiwerig om hul steun aan ander partye soos die DA, EFF of MK-party te gee.

“Ek dink mense het besluit hulle gaan die ANC tug en hulle wil nie eintlik vir die DA stem nie. Hulle is bietjie skrikkerig vir EFF en vir MKP. Ek dink dis ActionSA of PA wat dan die stemme gaan kry en in hierdie geval was dit ActionSA in ’n hele aantal wyke en munisipaliteite.”

Volgens Van Heerden skep te veel koalisievennote dikwels ruimte vir onstabiliteit en politieke konflik.

“Daar is altyd onstabiliteit wanneer daar te veel partye betrokke is in die koalisie. En die feit dat daar nou net twee gaan wees, beteken dat Ekurhuleni ’n beter stabiliteit kan kry.”

Die voorlopige uitslae toon ’n beduidende verskuiwing sedert die 2021-verkiesing, toe die ANC 38,19% van die stemme en 86 setels behaal het. Die DA het destyds 28,72% en 65 setels gekry, terwyl ActionSA met 6,6% op 15 setels geëindig het. Geen party het die vereiste 113 van die raad se 224 setels behaal nie.

Van Heerden sê die belangrikste les vir politieke partye is dat kiesers konkrete resultate op plaaslike vlak verwag.

“Die pad vorentoe? Ek dink die belangrike les is as jy wil hê mense moet vir jou stem, dan moet jy hulle kan wys dat jy werk op plaaslike vlak, dat water, elektrisiteitvoorsiening en dies meer gebeur.”

Hy wys daarop dat paaie, slaggate, riool en ander basiese dienste aandag moet geniet.

“Dis al die basiese dienslewering. As jy dit nie kan doen nie en daar is daai stigma van jou party wat altyd betrokke is in korrupsie, dan gaan jy getug word by die stembus en ek dink in baie gevalle was dit die geval en hoekom die ANC so sleg gedoen het.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos