Betroubare bronne het aan NoordkaapBulletin, ’n susterpublikasie van Die Papier, gesê dat een van die twee aflosvlieëniers wat daarin geslaag het om ’n Flydubai-passasiersvliegtuig met “bomenslike krag en kalmte te midde van histerie” weer onder beheer te kry nadat dit byna neergestort het, ’n Suid-Afrikaner was.
Volgens ’n ander bron is daar berigte dat die tweede aflosvlieënier moontlik van Nieu-Seeland afkomstig is.
Volgens die BBC, Reuters en die Daily Mail het Flydubai-vlug FZ1073 van Dubai na Tel Aviv in ’n lewensgevaarlike situasie beland toe ’n medevlieënier na bewering die ander vlieënier met ’n mes aangeval het.
Vlugsdata toon dat die Boeing 737 MAX skielik ’n groot hoogteverlies ervaar het en binne minute van ongeveer 34 000 voet tot sowat 15 000 voet gedaal het.
Bemanning en passasiers gryp in te midde van chaos
Noodseine vir ’n algemene noodgeval, sowel as vir onwettige inmenging of ’n kaping, is uitgestuur. Te midde van die chaos en paniek het bemanningslede en passasiers, insluitend die aflosvlieëniers, na bewering die kajuit bestorm. Hulle het die aanvaller oorweldig, vasgebind en die vliegtuig weer onder beheer gekry.
LEES OOK: Passenger on rerouted flydubai flight says pilot tried to crash plane
Die vliegtuig is na Tabuk-lughawe in Saoedi-Arabië herlei, waar dit veilig geland het. Die aanvaller is deur plaaslike owerhede in hegtenis geneem. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die optrede van die passasiers en bemanning geloof en gesê hulle het “baie lewens gered en ’n groot ramp voorkom”, terwyl amptenare dit beskryf het as die verydeling van ’n moontlike “Israelse 9/11”.
‘Ek het die aanvaller in ’n nekgreep gehad en hom uitgesleep’
Volgens die BBC-verslag het ’n passasier, Yaniv, aan die Netanyahu vertel hoe hulle die aanvaller oorrompel het: “Die vlieënier wat gesteek is, was baie naby aan die deur en dit was moeilik om oop te maak. Voordat die vlieënier inmekaargesak het, kon hy die deur oopmaak. Toe ek en nog ’n man ingaan, het ek die aanvaller in ’n nekgreep gehad en hom eerste uitgesleep.”
Hy sê die aanvaller het probeer om die instrumente te vernietig, terwyl ander passasiers gehelp het om hom vas te trek.
Yaniv sê hy het aan die vliegtuig se beheerstelsels geraak omdat hy gereeld die TV-reeks Air Crash Investigation kyk.
“Die vliegtuig het toe weer gelyk begin vlieg, waarna die vlieënier teruggekom en beheer oorgeneem het,” het Yaniv volgens die BBC aan Netanyahu gesê.
