Losskakel Vusi Moyo glo die Sharks is goed voorbereid vir hul groot Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-wedstryd teen Leinster in Durban op Saterdag.
Ná ’n uitstekende oorwinning oor die Ospreys in die openingsronde van die kompetisie, sal die Sharks daarop mik om hul tweede opeenvolgende sege te behaal.
Moyo sal ’n sleutelrol daarin speel en ná sy uitstaande vertoning teen die Ospreys het hy Donderdag selfversekerd voorgekom toe hy met verslaggewers gepraat het nadat afrigter JP Pietersen sy span vir die kragmeting aangekondig het.
Moyo weet dat sy rol as losskakel van kardinale belang sal wees indien die Sharks die verdedigende kampioene wil klop. Hy beklemtoon egter dat die fokus minder op wat Leinster gaan bring is en meer daarop om sy eie verantwoordelikhede so goed moontlik uit te voer.
“Dit gaan bloot daaroor om verantwoordelikheid vir my eie spel te neem en vertroue te hê in die voorbereiding wat die afrigters deur die week gedoen het,” het Moyo aan verslaggewers gesê.

“Met die Springbokke wat terug is, kry jy daardie ekstra bietjie selfvertroue omdat jy weet jy word deur gehalte-spelers omring. As ons die naweek ingaan, fokus ons nie regtig op wat Leinster kan doen nie, maar eerder op wat ons self kan bereik.
“Ons het as Sharks sekere standaarde vir onsself gestel en ons wil daardie standaarde handhaaf. Ek is baie opgewonde oor die naweek en om verantwoordelikheid te neem vir dit wat die afrigters vir ons uiteengesit het.”

Dit is ’n volwasse benadering van ’n jong losskakel wat reeds sy onmiskenbare potensiaal gewys het en ook al die groen-en-goud oor sy kop getrek het.
Moyo sal weer daarop uit wees om sy talent te wys, en daar is sekerlik geen beter teenstander om dit teen te doen as een van die voorste klubspanne ter wêreld nie.
Afskop in Durban op Saterdag is om 18:30.
